“Dit het noodsaaklik geword dat ons almal ons gedrag en ingesteldheid teenoor water in heroorweging moet neem en aanpassings maak. Daar lê vir ons baie werk voor.” So sê minister Lindiwe Sisulu oor Suid-Afrika se waterkrisis. Foto: Elsabé Pienaar


DIE minister van menslike neder-settings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het mediaverteenwoordigers by die parlement toegespreek oor die departement se beplande optrede in reaksie op die droogte.

Volgens Sisulu het haar departement die droogtetoestande in al die provinsies geëvalueer en met voorstelle vir ingrypings op die kort, medium, en lang termyn vorendag gekom. Die departement het ook grondwaterbronne in droogtegeteisterde streke van elke provinsie ondersoek.

Droogtestrekking in Oos-Kaap

Volgens Sisulu is Oos-Kaapse damme wat minder as 10% vol is, as kritiek gekategoriseer. Slegs twee van die 46 damme in die Oos-Kaap is tans 100% vol. Volgens die jongste damvlakverslag van die departement is 18 Oos-Kaapse damme meer as 50% vol, terwyl 26 damme minder as 50% vol is. Agt hiervan is in ‘n kritieke toestand (<10%), nl. die Xilinxadam, Gcuwadam, Bonkolodam, Beervleidam, Nqwebadam, Tolenidam, Kommandodriftdam, en Lake Arthur.

Departementele ondersoeke het voorts laat blyk dat 44 Oos-Kaapse dorpe tans intensief deur die droogte geaffekteer word.

Vir die 2018-2019 periode is reeds R 571.4 miljoen se droogtehulpfondse bewillig, maar vir 2019-2020 is R 1.039 biljoen se bestaande projekte gelys vir implementering.

“Ons kan nie die realiteit dat Suid-Afrika ‘n waterskaars land is ontsnap nie,” het Sisulu op die mediakonferensie gesê. “Dit is ons eie verantwoordelikheid om te verseker dat ons dít wat ons het, sal bewaar, en om spaarsamig te werk te gaan met die bietjie bronne wat ons het.

“Dit het noodsaaklik geword dat ons almal ons gedrag en ingesteldheid teenoor water in heroorweging moet neem en aanpassings maak. Daar lê vir ons baie werk voor,” het Sisulu beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article