HAAR hart is vol van liefde vir diere en dít is wat Lisbé Erasmus laat besluit het om rondloper- en siek diere te versorg. Sommer só by haar huis en op haar eentjie.
Tydens Mid-Karoo Express se besoek het sy 40 honde, 27 katte, ’n paar skape, ’n pou en ’n perd gehad wat haar aandag verg.
Gelukkig doen sy hierdie groot liefdestaak nie meer alleen nie en is haar seun Derrick haar regterhand. Lisbé voeg by dat die gesin naweke uithelp en dat daar nie sprake van vakansie vir die Erasmusse is nie.
“Ons dag begin vroeg. Ons staan 07:00 op en dan begin ons dadelik om die hokke/skuilings en goed skoon te maak,” vertel Derrick, wat baie trots is op die werk wat hulle doen.
Hy is ook baie lief vir die diere, want die ongeveer 10 honde in die voortuin tros om hom saam en hulle luister as hy praat.
Hy het ook die wonderlike talent om verwilderde honde aan te keer en hulle met sy stem op hul gemak te stel sodat hulle gevang kan word. “Amper soos ’n hondefluisteraar?” wonder Lisbé hardop.
Die skoonmaakproses word in die laat middae herhaal – klink so maklik, maar die honde se beddegoed moet ook uitgeskud of gewas word en die kos- en waterbakke moet skoon gemaak en vol kom. Olike diere moet behandel word en soms moet van hulle gesteriliseer word en na die veearts toe geneem word.
Lisbé sê dat sy baie bly was toe sy so ongeveer 10 jaar gelede by Diereversorging kon registreer, want sy kon net nie meer voorbly met uitgawes nie. “Jy weet die mense het my oorval met hul ‘probleem’ of siek honde en katte. Só het ek gehelp waar ek kon en ook diere ingeneem wat die eienaars nie meer wou hê nie.
“Dan moet jy weet nou praat ek nie eens van verhongerde en mishandelde diere wat ons ingeneem het nie.”
Soos die diere by haar meer geword het, moes sy maar inspring en skuilings na die beste van haar vermoë prakseer, maar finansieel het dit begin knyp.
Op daardie stadium het sy ’n dogter en ’n gestremde tweelingseuns gehad om te versorg en as huisgesin het hulle dit nie breed gehad nie.
Sy is nou in beheer van Diereversorging in Somerset-Oos en finansieel en andersins gaan dit beter.
Mense wat ook ’n liefde vir diere het, en waardering het vir die groot werk wat hulle doen, dra ruim by met skenkings soos hokke, kos, medisyne en vele meer.
Daar is ook goedhartiges wat geld by die veearts op haar rekening inbetaal. Op die oomblik benodig hulle sement, want hulle wil graag sementvloere in al die hokke sit en sy is dankbaar dat daar al wel sakkies sement gearriveer het.
Aangesien Lisbé nou afgetree is en meer tyd op hande het, het sy nou ’n ander saak wat soos ’n klip op haar hart lê – die baie rondloperhonde in die dorp – veral in die hoofstraat.
Sy is van plan om die eienaars van die honde te probeer opspoor, want van hulle het allerhande probleme waarna nie gekyk word nie en aansteeklik is.
Haar hartewens is dat die inwoners sal ophou om hierdie diere te voer, want dit is “problematies”. Sy het al met van hierdie mense gesels; hulle verstaan haar besorgdheid en het aangebied om te help waar hulle kan.
Francois Triegaardt, die gesondheidsinspekteur by die plaaslike munisipaliteit het belowe om hand by te sit.
Is daar iets van hierdie liefdes- diens waarvan sy nie hou nie?
“Ja, dis nie vir my lekker as ek diere dierehemel toe moet laat gaan nie.”




