Helené Botha. FOTO: DEONETTE HAGGARD


HELENE Botha is as die nuwe bestuurder van die ACVV-dienssentrum op Somerset-Oos aangestel en het reeds met haar werksaamhede begin.

“Dienssentrums is belangrike en waardevolle hulpbronne vir ouer persone in gemeenskappe met die verskaffing van hulp in die bestuur van hul veroudering, hul onafhanklikheid en kwaliteit van lewe. Die doel van dienssentrums is om koesterend, saam met die gemeenskap, vir die ouer persone ’n koste-effektiewe hulpbron te wees wanneer hulle versorging en ondersteuning benodig; en ek is verheug om my dienste hier te kan lewer,” het Botha vertel.

Sy vertel ook opgewonde dat sy baie blink planne het, maar dat baie daarvan ook afhang van finansies en mense wat vrywilliglik hul dienste en hulp aanbied. Sy sal graag die dienssentrum in ’n veilige hawe wil omskep waar baie aktiwiteite aangebied kan word om in die inwoners se behoeftes te voorsien. “In my geestesoog sien ek ’n huis met ’n warm, gesellige atmosfeer waar almal gesellig verkeer en waar aktiwiteite saam in groepe of alleen beoefen kan word.”

Botha is ’n Somersetter in murg en been aangesien sy al 32 jaar hier woon. Nie alleen het sy ’n dogter en ’n seun grootgemaak nie, maar het sommer vir hulle tuisonderrig ook gegee. Sy hou daarvan om besig te bly en maak deesdae oulike naam- en houtborde met mooi en lawwe gesegdes daarop geskryf. “My kleinkinders is egter absoluut die genot in my lewe, ek geniet hulle loshande bo alles waarmee ek my besig hou.”

Sy doen ’n vriendelike beroep op die gemeenskap van Somerset-Oos om haar te help. Daar is reeds heelwat vrywilligers wat hulp aangebied het, maar om die diens te lewer wat sy beoog, het sy nog meer mense nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article