KERRIEVIS en Paasbolletjies is so eie aan Paasfees soos die tradisionele Paashaas wat in sjokoladevorm in verskeie groottes aan ons opgedis word.

Dis rondom hierdie tyd dat die prys van uie en kookolie die hoogte inskiet en asyn skielik nie meer so suur is soos in die Afrikaanse lys van intensiewe vorme voorgegee word nie.

Stap op die vooraand van Goeie Vrydag deur enige woonbuurt se strate en jou neusgate word gevul met die aroma van vis wat in panne van alle groottes berei word vir die volgende dag se ge-smul aan dié soetsuur lekkerte wat jare lank al sinoniem met Paasfees is. Maasbanker, stokvis, snoek, kabeljou, geelstert. Die lys is oneindig.

Elke jaar wanneer ek op Goeie Vrydag vir ’n ruim porsie kerrievis aansit, word ek onwillekeurig na my kinderdae teruggevoer. Vis op die platteland was destyds so skaars soos hoendertande. Ons moes maar tevrede wees met Saldanha-, Glenryck- of Lucky Star geblikte vis wat oorle ouma op haar uitsonderlike manier gedokter het om dit darem ’n ekstra Paasskoppie te gee.

Omdat Paasfees gewoonlik sy opwagting lank voor pensioendag gemaak het, het Ouma vir ons mieliemeelvetkoek wat in Holsum- of Pretvet gebak is, voorgesit om in die kerrievissousie te doop.

My eerste proeseltjie egte kerrievis en Paasbolletjies het ek te danke aan ’n Baaise tante van my wat skielik een Paasnaweek by ons kom kuier het. Oorle tant Lettie en haar egge-noot oom Piens het op dié God-gegewe Goeie Vrydag met hul duur stasiewa voor ons eenvoudige huisie opgetrek. Oom Piens was tegnikus by ’n vooraanstaande naaimasjienfirma en antie Lettie op die oog af ’n voorslaghuisvrou.

Dit was ook nie lank nie of ons kleinspan word nader gewink om die magdom padkosblikke die huis in te dra.

Met ons terugkoms van die Goeie Vry-dag-kerkdiens is ons elkeen ’n bakkie kerrievis met ’n rosyntjiebroodjie in die hand gestop.

Ek het my etlike minute lank verkyk aan die wit kruisie op die broodjie voordat ek my kindertandjies daarin geslaan het. Die rosyntjies het ek een vir een met my duim en wysvinger uitgepluk. Die vis was hemels en ek het tipies van ’n kind lank en lekker daaraan gesmul. Tot die laaste sousie met my wysvinger uitgelek.

Sedert daardie Paasfees het ek elke jaar uitgesien na tant Lettie en oom Piens se jaarlikse besoek. Wanneer ek op Goeie Vrydag vir my eerste porsie kerrievis aansit, kom kuier tant Lettie altyd in my gedagtes.

Toe sy my met haar vertrek op daardie Paasmaandag ’n drukkie gee, het sy ook vir my my eerste Paaseier in die hand gestop.

Ek het seker vir bykans ’n uur daaraan gepeusel omdat ek dit met sulke klein knypies geëet het. Té bang en suinig dat dit klaar moet raak . . .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article