Ek het as laerskoolkind uitgeblink in stoei. Wel, eintlik het ek en my sussie Donderdagmiddae op pad huis toe in ’n bekgeveg betrokke geraak oor wie eerste die Huisgenoot gaan lees.
Tuis sou ons handgemeen raak met soveel geweld dat my ma liewer in haar kamer gebly het, en die eindronde het aangebreek as die eerste een bloei. Ek verstaan nou hoekom die tannie-van-langsaan nooit geweier het as ons gaan vra of ons bietjie op haar trampolien kan spring nie. Siestog!
Een van die eerste rubrieke wat ek gewoonlik in die Huisgenoot opgesoek het, was oom Murray Janson se rubriek. Dis nou op die dae wat my sussie eerste gebloei het.
“Liewe oom Murray Janson,” sou daar in Italics geskrywe staan, en dan sou daar ’n treurmare volg van ’n vrou wat ontdek het dat haar man haar verneuk, en wil weet of sy hom moet konfronteer.
“Maak vir hom lekker koffie ná werk, en benader die saak dan kalm,” was oom Murray se raad.
’n Man skryf dat hy sy vrou verneuk het, maar vermoed sy weet niks, en sy gewete pla hom en “ek weet nie of ek nie maar alles teenoor my vrou moet bely nie.” Moenie, was oom Murray se raad.
Dan was daar vrae wat mens nie eintlik in ’n gesinstydskrif sou verwag nie, en ek sal maar so in die raadgewer se post mortem afwesigheid erken dat ek as tienjarige partykeer gedink het sy raad klink verdag.
Maar ek mis dit om diep vrae mét antwoorde te sien. Ek het vandag baie meer vrae, en nie oom Murray of Talana van die Keur of Maretha Maartens sal antwoorde hê nie.
Want die wêreld het ’n matriks geword met te veel veranderlikes, en dié wat gister nog samesweringsteoretici was, is vandag geëerde profete van waargeworde verregaandelikhede. En die vrae word net méér, en die mensDOM-mer.
Daar’s mos ’n spreekwoord wat sê: “Gaan vra vir die voëls,” en dís hoe dit gekom het dat daar nou mooi bruin hoendertjies soggens aan my onderdeur pik en my tienerseun dreig om Kentucky te maak as nog één hen ’n “slap eier” op sy buitekamervloer kom lê.
Nou loop ek heeldag en weglê-eiers soek en vra my diepste hartsvrae vir Katinka en Penelope en Hester. Ek voel gevly oor die feit dat iemand heeldag om my kloek, maar soek steeds antwoorde.
Ek wil wéét hoekom Fidel se seun in Kanada grootgeword het, en kan niemand anders dan sien hy’s ’n Castro en nie ’n Trudeau nie. Kan niemand sien Harry het nie Charles se ore nie?
Wonder niemand anders of ons geld nog veilig is in die bank, of Hillary Clinton rêrig ’n akkedis is en of ons nie dalk maar wel op ’n pizza bly eerder as die enigste spinnende sokkerbal wat nie aan middelpuntvliedende krag onderworpe is nie?
En dêmmit, hoekom het hulle in die 1969 movie net manlike akteurs gebruik om op die maan te “land”? Neil kon mos nou ewe galant ’n dame uit die maantuig help dat haar hare so in die wind waai, nes die Amerikaanse vlag, en dan kon SY sê “one small step for man, one giant step for mankind, but don’t sweat it, honey, you will never catch up to a woman.”
Dit kon Marilyn gewees het. Dink net hoe mooi sou haar wit krulle opwip as sy haar helmet afhaal en wegtrek met “Happy birthday, Mr President” met maanlug in haar groot, uhm, longe. Wonder niemand oor dít nie?
Gelukkig het ek ’n wyse man, wat nou die dag belangrike kantoorwerk opsygeskuif het om my eers gou vyf ure heen en terug na Murraysburg te vergesel. Net sodat ek my 20 lêhenne daar kan gaan optel by ’n boer. Ek is vol moed dat ek die eiervrug van my arbeid gaan pluk. Die boer sê as mens als en als uitwerk, kos ’n tuisgelêde eier jou so R1.10. Dis ’n winskopie, dink ek, want dis immers vryloopeiers. Maar nou het ek ’n som om te maak en nogeens weer meer vrae, soos:
As ’n stadsjapie wat in 1973 gebore is in 2017 platteland toe trek en 5 jaar later 20 lêhenne koop wat twee mense vyf ure se lewenstyd en 400km se petrol en R170 se padkos kos,
a) Hoeveel kos een tuisgelêde eier as die stadsjapie teen die tyd wat die hoenders almal vir die eerste keer afgelaai word, skielik net 19 tel?
b) Wat is die waarskynlikheid dat ’n 20-weekoud hoender uit ’n toegevoude Take-alot boks in die bakkiekap van ’n Hiluxbakkie wat 120km/h ry sal klim en,
c) Kan ’n Lohman Red vlieg?

