DIS 23:30 en ek is sekondes weg van daai magiese oomblik wanneer Klaas Vakie mens na droomland wegvoer.

Sekondes weg van my gunsteling roomysstalletjie op ’n Teletubbie-heuwel, en ’n suidsee-eiland, ’n hangmat en ’n yskoue pina colada. Een met ’n sambreeltjie. (Ag toe! Walt Disney het gesê “As jy dit kan droom, kan jy dit doen.”)

Pieng-pieng-pieng, skril my sel-foon. En weg is my roomys, my hangmat en my cocktail-sambreel-tjie. Ek skrik vervaard regop, want my ma het my geleer mens bel nie saans ná 20:00 nie. Ook nie Sondae tussen 13:00 en 16:00 nie, behalwe as daar regtig nood is.

Dit was natuurlik in die oertyd, toe ons nog net landlyne gehad het. Vandag het almal selfone, menings en swak maniere. Paar dit met wifi-gebraaide breinselle, en dan verstaan jy waarom die pas aangekondigde boodskap op my selfoon ’n prentjie is van ’n teddiebeer onder ’n lappieskombers. “Lekr slapies!” lees Mandy se boodskap.

Ek ken haar van geen kant af nie. Sy’s een van 120 ander mense op die dorp se anti-misdaad groep, streng “gereserveer” vir noodboodskappe soos “Daar’s ’n man met ’n mes in my kombuis. SOS.”

Ek tik ’n paar vloekwoorde, maar vee dit uit voor ek die stuurknoppie druk, en dink met heimwee aan Die Profeet. Nee, nie Kahlil nie. Johannes, en sy woorde, “Sit dit af!”

Sedert whatsapp tien jaar gelede die selfoonwêreld betree het, het dit die samelewing onherroeplik verander. Dinge gebeur makliker en vinniger, omdat kommunikasie net sover as jou vingerpunte van jou af weg is.

Dat dit egter ook veroorsaak dat situasies vinnig buite beheer spin, het onlangs weer duidelik geword toe ’n enkele foto uit Schweizer-Reneke buite konteks gebruik is.

Miskien is die selfoon selfs dode-liker as ’n atoombom. Dit sal net een “loose cannon” uit whatsapp se 1.5 biljoen gebruikers wêreldwyd verg om met die druk van enkele knoppies ’n hele stel gebeure te ontketen met verreikende gevolge.

Daar trek daagliks 65 biljoen whatsapp-boodskappe oor die aarde. Die onpersoonlike, dog dodelike rooi atoombomknoppie sit vandag in elkeen van ons se hande, en jy kort nie eens ’n wagwoord om ’n oorlog te begin nie.

Britste navorsers het bewys dat ’n privaatgesprek tussen twee individue op ’n Whatsapp-groep dié grootste enkele bron van irritasie vir gebruikers is. Ek sekondeer.

En in die afwesigheid van ant Emsie Schoeman, en op gesag van die derduisende grys wortels wat my na my sewejarige seuntjie se ouma laat lyk, bepleit ek dié eenvoudige Whatsappgroep-etiket-reëls:

  • Besin eer jy begin. Is jou boodskap werklik van belang vir elke groepslid, of dalk eerder net bedoel vir jou beste skindervriendin?
  • Respekteer ander mense se tyd, privaatheid en selfoondata. Moenie ’n uurlange selfoonvideo van jou gunsteling Amerikaanse prediker op die skool se Landloopgroep post nie.
  • Kyk jou spelling oor. Gebruik volsinne, en onthou dis nie opstelperiode nie. Jy gaan nie meer punte verdien as jy 500 woorde gebruik nie.
  • En laastens, ter wille van jouself, jou huwelik en wêreldvrede: kyk na die naam regs onder alvorens jy stuur druk. Vra maar vir Margharet. Want Chris hét toe gery!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article