NÁ ’n afwesigheid van meer as 180 jaar, en ten spyte van ’n moeisame proses wat vertraag is deur administratiewe rompslomp, is die eerste trop vrylopende leeus uiteindelik hervestig op die vlaktes van die Karoo.
Mid-Karoo Express het net verlede week berig dat twee olifantbulle hervestig is op Samara Private Wildreservaat wat net buite Graaff-Reinet geleë is.
Die hervestiging van ’n leeutrop op dieselfde reservaat skaars ’n week later, beteken dat Samara nou amptelik kan spog met ’n volledige Groot Vyf-versameling – ’n droom waaraan reeds ’n hele paar jaar gewerk is, en die eerste in dié uitgebreide bewaringsgebied is.
’n Driejaar-oue leeumannetjie en een wyfie (2½ jaar oud) het hul vorige tuiste, Kwande Natuurreservaat (naby Makhanda) verruil vir Samara, 53km suidoos van Graaff-Reinet.
Daar word beplan om ’n tweede wyfie binne die volgende paar maande by hulle te voeg.
Omdat leeus, wat voorheen endemies aan die Karoo-sisteem was, se normale migrasie totaal belemmer is deur grense wat opgerig is deur die mens, word hul migrasie vandag gena-aap danksy kunsmatige ingryping deur middel van hervestiging van leeutroppe in beskermde gebiede.
Dalende leeugetalle (’n val van 43% oor die afgelope 24 jaar) en die uiterste noodsaaklikheid van ’n gesonde gene-poel, maak bewaringspogings soos dié van Samara van deurslaggewende belang.
“Ons kan nie wag om hul gebrul te hoor eggo deur ons valleie nie,” vertel Sarah Tompkins, stigter van Samara Private Wildreservaat.
“Hierdie hervestiging van leeus skep vir ons die navorsingsgeleentheid om waar te neem wát gebeur wanneer ’n toproofdier terugkeer tot ’n ekosisteem.”


