VELDE is droog in groot gedeeltes van die Noord-Oos-Kaap na ’n dorre winter en die weerburo waarsku bykans daagliks teen die gevaar van veldbrande.
Augustuswinde droog nie net die veld verder uit nie, maar is ’n groot gevaar indien daar iewers ’n vuur ontstaan.
Daar het onlangs twee veldbrande ontstaan, maar met die nodige bystand van bure en instansies wat spesialiseer in brandbestryding, kan daar berig word dat daar nie buitengewone groot skade aangerig is nie.
Een van dié veldbrande het langs die Cradockpad sowat 7km vanaf Hofmeyr ontstaan.
Die onderskeie wyksgroepe het vinnig gereageer en hulp was spoedig op die toneel.
Die brand is redelik vinnig onder beheer gebring, maar was ’n ernstige waarskuwing dat een enkele vonkie ’n hele plaas in vlamme kan laat opgaan.
Die brand is vermoedelik deur ’n sigaretstompie veroorsaak wat deur ’n roker by ’n voertuigruit uitgegooi is.
Rokers word gemaan om dié gewoonte te stop. ’n Enkele brandende sigaretstompie wat in droë gras beland, kan duisende hektaar verbrand. Veral indien Augustus se bergwindtoestande heers.
Weens die erge droogte is water skaars. Dit is dus bykans onmoontlik om ’n veldbrand te beheer sonder genoegsame waterbronne.
Nog ’n veldbrand het tussen Hofmeyr, Molteno en Burgersdorp ontstaan en die area se boere-vereniging het onmiddellik versterkings aangevra aangesien daar redelike sterk winde in die omgewing gewaai het.
Working on Fire is vanaf Molteno ingeroep om te help met die vuur.
Talle boere van die omgewing het ook hul brandblusenjins gebring en die vuur kon gelukkig vinnig onder beheer gebring word.
Volgens wetgewing mag geen suurveld gebrand word voor Oktober nie en mag veld nie gebrand word as deel van ’n veldbestuurstelsel voordat dit nie gereën het nie.
Persone wat met behulp van brand hul boerderystelsels bestuur, word ook aangemoedig om te alle tye die regte kanale te volg en die nodige voorsorg te tref voordat daar ’n vuurhoutjie ge-trek word.

