Beeldhouer Daleen Kruger van Nieu-Bethesda by haar hoogste engel nóg. Dié engel, wat in die gemeenskapsroostuin staan, is 1.6 meter hoog en dit het Daleen twee maande geneem om haar te voltooi.

Foto: Elsabé Groenewald

’n Spesiale engel het verlede jaar in die gemeenskapsroostuin op Nieu-Bethesda haar opwagting gemaak.

Wat háár uniek maak, is dat sy teen 1.6m die grootste engel is wat Nieu-Bethesda beeldhoukunstenaar Daleen Kruger nóg gemaak het.

Die engel in die roostuin

“Elsie (Weich) het so drie jaar gelede ’n kleiner engel van my gekoop. Hulle het toe pas die roostuin bekom en ons het dadelik begin speel met die gedagte van ’n groot engel,” sê Daleen.

“Intussen het ek ’n pragtige stuk Oregon Pine by ’n vriend, André Kriel, gekry, en my kreatiewe bedrewendheid met die hoekslyper, waarmee ek die engele uitkerf, het heelwat ontwikkel.

“Die stuk hout het teen ’n boom gestaan en dag in en dag uit vir my geloer. Elke keer as ek daar verbygeloop het, het iets van ’n figuur uit die vlamme van die hout vir my duideliker en duideliker geword.”

Daleen is hier besig met die finale afrondingswerk aan Ounooi haar Troos-engel. Foto’s: VERSKAF

Die engel is uiteindelik deur plaaslike nutsman Justin Duckitt stewig staangemaak, en die Weichs het die roostuin met 370 roosbome daarin, vir die publiek oopgestel.

”Die Karoo Engele is gebore uit ’n gesprek wat ek met ’n vriendin gevoer het toe ek by ’n kruispad in my lewe gekom het. ‘You know, Gill,’ het ek gesê, ‘Only angels can help me now.’

“Op Gill se stoep het daar twee Egiptiese hout-engele gehang. Hulle het my oog gevang, en ek het gedink . . . wow!”

Daleen het nog altyd gedink dis jammer dat die oorvloed garingbome of agaves op Karooplase uiteindelik maar kreupelhout word en onbenut vergaan. Sy het omliggende boere se toestemming bekom om van dié stompe by hulle te kry.

Haar vriendin Gill, is intussen oorlede. En nou waak daar honderde garingboomhout-engele, wat in Daleen se hande gebore is met hoekslyper en graveerder, oor tuine in Nieu-Bethesda.

“Mens durf nooit jou onderbewussyn onderskat nie. As ek vrede wil projekteer via gereedskap op die engele, dan moet ek vrede in my hart koester.

“Die hoekslyper is ’n gevaarlike stuk gereedskap wat my noop om teenwoordigheid te handhaaf in die skeppingsproses,” sê Daleen.

Volgens haar is die Karoo Engele simbole van hoop, omgee en beskerming wat ons nodig het op ons lewensreise.

Karoo Engele se eie reisplan

“Ek ontmoet die interessantste gentle soul mense. Ons is maar almal eintlik reisigers, al reis ek tans meer ’n sielereis binne myself.”

Daleen dink nie die besluit om engele uit garingbome te maak was háár besluit nie.

“Die Karoo Engele het my gekies. Hulle laat my as kunstenaar toe om vlerke van oorlewing te kry. Engele is heilige simbole en as kunstenaar moet ek dit met respek hanteer,” sê Daleen.

Sy is nie net ’n begaafde kunstenaar nie, maar ook ’n bekroonde dramaturg.

Haar toneelstuk, Draadwerk, is in 2009 met die gesogte Nagtegaalprys vir nuut geskrewe dramas bekroon.

Draadwerk handel oor Helen Martins, Nieu-Bethesda se Uilvrou, en Koos Malgas, wat haar regterhand was.

Karoo Engele bestaan die afgelope vier jaar, en is beskikbaar by Daleen se stoepwinkel in Millerstraat, Nieu-Bethesda.

Daleen en ander kunstenaars hou Sondag-aand, 27 Februarie om 18:00 voorlesings, vertellings, lees van gedigte en daar is viool- musiek in NieuKaroo restaurant. Bywoning is gratis.

  • Vir meer inligting bel of WhatsApp Daleen Kruger by 076 340 2310.

Ounooi, Daleen se Troos-engel nadat dit voltooi is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article