DR. Jeanette van Rensburg het onlangs die Urquarthuis in Graaff-Reinet besoek om die 2019-gedenkboek van “Die Boerevrou” bekend te stel.
“Die Boerevrou” was die eerste Afrikaanse-vrouetydskrif in Suid-Afrika, en het in ’n oplaag van sowat 1 000 eksemplare maandeliks verskyn tussen 1919 en 1931. Dit was ’n moeilike tyd vir die vrou: Suid-Afrika het steeds gesteier onder die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog en die Verskroeide Aarde-beleid.
Dit was kort ná die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog, ’n tyd van grootskaalse verstedeliking, en die era van die armblanke. Eienaar-redaktrise Mabel Malherbe was diep onder die indruk van hoe ryp die tyd was vir dié soort publikasie om die lig te sien. Afrikaans was amptelik maar nog in haar kinderskoene, en groot moeite is gedoen met die taalversorg-ing.
Dit was ’n tydskrif vir vroue déúr vroue, en Die Boerevrou het ’n enorme rol gespeel om die aanpassings wat die Afrikanervrou moes maak in dié era, te vergemaklik. Die tydskrif was propvol praktiese raad oor enige iets, van tuinmaak en pluimveeboerdery tot kaasmaak, seepkook en byeboerdery.
Die lesers was nie intellektueel agtergeblewe nie. Die tydskrif was ’n mondstuk vir vroueverenigings, daar was boekresensies, verhale en gedigte, en onder meer gereelde bydraes deur Eugéne Marais (Mabel se oom). Die bekende skrywer M.E.R. was ’n tyd lank subredaktrise. Die briewekolom Om die Koffietafel was uiters gewild, en wenbriewe is beloon met ’n spesiaal gegraveerde teelepeltjie.
Die 2019-gedenkboek is spesiaal in tydskrif formaat gedruk, en gee mens ’n kosbare blik op die lewe en uitdagings wat die vrou in die eerste derde van die 20ste eeu in Suid-Afrika in die gesig gestaar het. Enige vrou en moeder in die onstuimige landskap van Suid-Afrika in 2019, kan doen met ’n eksemplaar van hierdie baie spesiale gedenkboek.
Dit kan eenvoudig nie anders nie – mens lees dié boek en sit dit neer met ’n hernieude gevoel van moed en durf, amper asof die boek skielik ’n poort na die verlede oopgemaak het sodat mens kan put uit die stille krag van die vrou wat 100 jaar gelede haar stem en voete moes vind in ’n onseker tyd in hierdie selfde land. Miskien is dit die leuse van Die Boerevrou wat mens steeds sag hoor fluister: “Ek sien haar wen, want haar naam is Vrou en Moeder!”
Die Boerevrou 2019-gedenkboek kos R250. Vir meer inligting, besoek www.dieboerevrou.co.za.


