Vir selfs die oningeligte is dit duidelikd at daar lanklaas enige onderhoud op die damwal gedoen is.Foto:ELSABE PIENAAR


DIE departement van menslike neder- settings, water en sanitasie sleep voete om die veiligheid van die Nqweba-damwal bokant Graaff-Reinet te ondersoek.

Minister Lindiwe Sisulu het reeds op 6 September vanjaar skriftelik te kenne gegee dat die Nqwebadam se wal struktureel gekompromiteer is.

Sy het opdrag gegee dat “die dienste van ’n goedgekeurde professionele onafhanklike persoon/maatskappy met die nodige dam-veiligheidskennis bekom moet word sodat die nodige rehabilitasie van die Nqwebadam in alle erns kan begin.”

Tot op hede het van hierdie voorneme dadels gekom.

Hoewel die Nqwebadam se oppervlak aan die Camdeboo Nasionale Park behoort, het die munisipaliteit in 2012 die damwal aan die departement van water en sanitasie oorge-dra, met die hoop dat die nodige fondse bewillig sou word om die damwal te beveilig.

Reeds so vroeg as 1959 het die munisipaliteit aan die departement skrywes gerig waarin kommer oor die veiligheid van die damwal uitgespreek is.

Die Sondagsrivier, wat in die Kompasberge naby Nieu-Bethesda ontspring, is die vinnigste vloeiende rivier in die land en tydens die 1974 vloede is huise in die laagliggende dele van die dorp ontruim omdat gevrees is dat die damwal sou meegee.

Deur die jare het vloedwater die betonwerk van die loopweg op die damwal ooglopend ge-erodeer. Slikdreineringsgate aan die toon van die dam blyk nie optimaal te funksioneer nie, maar ooglopende verbrokkeling en groot krake in die rotsskouer waar die damwal in die poort vasskop, is ook ‘n kommerwekkende faktor.

Inaggenome die byna honderdjaaroue damwal se strukturele tekortkominge, gebrekkige monitering deur die departement, en geweldige hoë potensiële lewensverlies wat ’n gebreekte damwal tot gevolg kan hê, word die Nqwebadam as een van die mees riskante damwalle in Suid-Afrika gereken. Navrae oor dié kommerwekkende situasie is telefonies en per e-pos aan verskeie beamptes in die Oos-Kaap en by die departementele hoofkantoor gerig.

Slegs woordvoerder Sputnik Ratau het ge-reageer, maar niks oor kritieke veiligheidsaspekte geantwoord nie.

“Die dam is leeg as gevolg van die droogte, en die munisipaliteit boor vir nog water,” het Ratau gesê.

Mo Moshodi, hoofingeneur van die departement se Damveiligheidswaarneming, het tydens die waterberaad wat verlede week in Graaff-Reinet gehou is, aan Komani-Karoo Express gesê dat die koste van ‘n behoorlike damveiligheidsondersoek sowat R300 000 beloop, en dat die departement hoop om dalk teen Maart 2020 ’n verslag te hê.

Intussen het die Graaff-Reinet ontwikkelingsforum onafhanklike kenners aangestel om die damwal en ander waterprobleme te ondersoek.

“Ons verwag binnekort ’n verslag oor die veiligheid van die wal,” het voorsitter Derek Light tydens ‘n paneelbespreking op die waterberaad gesê.

“Ons kyk ook na die moontlikheid om die damwal te verhoog ten einde die damkapasi-teit te vergroot,” het Light gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article