TERWYL baie boere in Cradock-distrik juig oor wonderlike reën wat op hul plase uitgesak het, hou boere in ander dele van die distrik elke dag nog angstig die wolke dop.
Sover vasgestel kon word, is tussen 12 mm en 65 mm op plase in die distrik aangeteken.
Almal is dit eens dat reënbuie streep-streep voorgekom het.
“Maar,” het Paul Collett, voorsitter van Cradock-distriklandbou-unie, gesê “alhoewel net sekere dele van die distrik goeie reën ontvang het, bid ons vir opvolgreën sodat die veld genoeg sal groei om ons deur die winter te kan dra.”
Danie van Rensburg van Strydomskraal sê reën op sy plaas was net stofnat buitjies en hy het nogsteeds groot probleme met water en moet steeds sy vee voer.
“Fonteine wat op ’n tyd so sterk geloop het dat ons lande daarmee kon besproei, het opgedroog en selfs die windpompe se water word min,” het hy gesê.
Hy glo egter sterk dat dit die komende na-week weer sal reën en dat hy dan sy beurt sal kry.
In die Bergkwagga Nasionale Park het dit ook goed in dele van die park gereën. Volgens Masindi Raselave, senior afdelingsveldwagter, is daar verskillende reënmeters oral in die park en het hulle tussen 41 mm en 51 mm gemeet.
Hy het egter gesê dat die damme goed water gevang het en dat die veld reeds ’n groen skynsel begin kry.
Verskillende soorte diere lam ook sedert November goed en daars oral klein diertjies te sien.


