Dertig jaar gelede het ’n man van Cradock toegewyd gesit en ’n replika van dié dorp se wêreldbekende NG Moederkerk met vuurhoutjies gebou. Vir diegene wat gewonder het wat van dié unieke kunswerk geword het, is daar die goeie nuus dat dit nog veilig bewaar word.
“Ek het Dampie in die drie-en-’n-half jaar wat hy aan die kerk gehou het maar min gesien. Hy het dit in 1992 klaar gebou en toe met plastiek oorgetrek om dit te bewaar,” vertel sy weduwee Sarah van Jaarsveld, bewaker van die kunswerk. Hy is in 1994 oorlede.
Dampie, in die doopregister as Andrew van Jaarsveld aangeteken, het net Lion-vuurhoutjies vir sy skepping gebruik.
“Ongelukkig het hy nie getel hoeveel vuurhoutjies hy gebruik het nie,” sê Sarah.
Sy vertel dat Dampie party van die vuurhoutjies gebrand het om ’n donker effek op dele van die kerk te gee. Om ronde dele van die kerk te bou, soos die vensters, het hy die vuurhoutjies in water gelê en dit gebuig. Vir die deurknoppe het hy koppiespelde gebruik.
Dié oud-speurder, wat baie kriminele se Nemesis was, was ’n kunstenaar in hart-en-siel en het bekendheid geniet vir sy troukoek-versierings, veral die versiersuikerrose wat hy gemaak het. Daarby was hy ’n talentvolle klavierspeler en orrelis vir die Congregational kerk. Hy het dan ook vir 17 jaar die orrel in St Peter’s kerk op die dorp gespeel.
Voordat hy by die polisie aangesluit het was Dampie ’n skoenmaker wat bekend was vir die spesiale skoene wat hy vir mense met voetgebreke gemaak het.
“In die dae toe hy in die destydse aanklagtekantoor in die landdrosgebou gewerk het, het sy liefde vir die Moederkerk-gebou begin. Hy het soms op Victoria Manor se stoep gaan sit om dié kerkgebou te bewonder,” sê Sarah.
Adjudant Offisier Dampie van Jaarsveld het in 1986 afgetree, maar is kort daarna weer ingeroep vir ’n spesiale ondersoek. Nadat hy vir die tweede keer afgetree het, het hy in alle erns besluit om ’n replika van die Moederkerk te maak.
- Die Cradock NG Moederkerk is in 1868 voltooi en is met geringe veranderings, op die plan van St Martins in the Field in London gebou, met planne wat deur Sir Christopher Wren opgetrek is.




