Cradock Sakeforum het ingespring om die kanaal wat water na die dorp se opgaardamme voer, te probeer herstel. Foto: VERSKAF


Nadat inligting ontvang is van die drie meter lange waterlek in die betonvoering van die kanaal wat water na Cradock se opgaardamme voer, het lede van die dorp se sakeforum dadelik aan die werk gespring om te keer dat al die water uitloop.

Dié groot waterlek is in die kanaal wat water uit die Groot- Visrivier na die Geelbooi- opgaardamme voer.

Volgens Lou Venter van die Cradock Sakeforum, word sandsakke en plate tydelik gebruik om die watertoevoer aan die gang te hou, maar ongelukkig lek heelwat water steeds uit.

“Ons sit eintlik met ’n tydbom, want die kanaal behoort eintlik geheel en al oorgedoen te word,” sê Venter.

“Ons probeer ons bes om die Geelbooi-opgaardamme so vol moontlik te hou om ’n totale opdroog van water na die dorp, Michausdal en Lingelihle te verhoed.”

“Tenders om die kanaal reg te maak, is al meer as tien dae gelede na Chris Hani Distriksmunisipaliteit gestuur, maar tot dusver is nog geen tender toegeken nie.

“Sodra die aangewese kontrakteur aan boord kom en begin met herstelwerk sal die kanaal heeltemaal toe wees en sal geen water na die dorp toe kan kom nie,” sê Venter.

Venter meen dat as elke verbruiker in Cradock sy of haar bes doen om water te spaar, daar vir almal water vir ’n week sal wees.

“Ek voorspel dat werk aan die kanaal minstens ’n week of dalk langer sal duur. So dit is uiters belangrik dat elke druppel water oordeelkundig gebruik moet word,” sê Venter.

Verouderde infrastruktuur en die fluitjiesriet wat die kanaal oorgroei het aanleiding gegee tot die verbrokkeling van die betonvoering.

Intussen word alle lekplekke aan pype in die dorpsgebied, asook verstopte rioolpype ook deur privaat loodgieters van die Sakeforum herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article