’n INWONER (26) van Cradock is in die hooggeregshof in Graaff-Reinet tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir verkragting en ses jaar tronkstraf vir seksuele aanranding van twee minderjarige meisies.
Die hof het verneem dat Nkosinathi Dakuse op 22 Desember 2016 die twee sesjarige meisies na ’n verlate huis in die Lingelihle-woonbuurt gelok en hulle verplig het om alkohol te drink. Hy het toe een van die meisies na ’n ander agterplaas geneem waar hy haar verkrag het. Met sy terugkoms by die huis het hy die ander meisie seksueel aan-gerand.
Die beskuldigde het gevlug maar is later, met behulp van die hoofwegpatrollie en die polisie se honde-eenheid aangekeer.
Brig Madoda Zamkana, hoof van die polisie in Cradock, het speurder-konstabel Monika Bouwer bedank vir haar uitstekende diens en deursettingsvermoë om die beskuldigde vas te trek.
“Hierdie vonnis bewys dat reg geskied het en dat hierdie man vir ’n baie lang tyd in die tronk sal wees,” het Zamkana gesê.
Dakuse se twee vonnisse sal samelopend wees.




