CRADOCKERS sien uit na vanjaar se Groot Visrivier-kanomarathon, veral omdat dit verlede jaar nie kon plaasvind nie weens die COVID-19-pandemie.

Teen afgelope Maandag was daar al ’n totaal van 535 roeiers wat ingeskryf het vir hierdie uitdagende roeiwedstryd wat op 8 en 9 Oktober plaasvind en oor 83 kilometer strek. Die organiseerders verwag dat daar nog laat inskrywings gaan kom en dat die totaal 600 sal oortref.

Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe word in die K2-afdeling beslis en daar behoort groot mededinging onder Suid-Afrikaanse en buitelandse roeiers te wees.

Die tweedaagse marathon begin die Vrydag by Grasrugdam en deelnemers maak in hierdie skof kennis met die uitdagende Keith’s Flyover, waar baie deelnemers al hul bote gebreek of spane verloor het, verskeie keerwalle, lae bruggies en ander hindernisse, tot by Knutsfordbrug waar die bote oornag.

Die tweede skof neem hulle van Knutsford tot by Cradock waar hulle, nadat hulle nog verskeie hindernisse en die uitdagende Cradock keerwal bemeester het, die eindpunt bereik.

VERVOLG OP BL. 2

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article