WATERPROBLEME in Cradock en die distriksmunisipaliiteit se onvermoë om dit aan te spreek, is nou op die spits gedryf en daadwerklike aksie teen Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) word beplan.

Ten spyte van CHDM woordvoerder, Thobeka Mqamelo, se verklaring verlede week dat geen dele van Cradock sonder water is nie, is die nuwe week ingelei met veelvoudige klagtes oor water wat glad nie, of in klein stroompies in groot dele van die dorp voorsien word.

Volgens ’n eiendomsagent van die dorp word baie huise in die betrokke gebiede deur hul moedelose eienaars in die mark gesit. By ’n huis wat verhuur word aan ’n maatskappy wat opknappingswerk by die plaaslike hospitaal doen, het die gebrek aan water hul maat-skappy genoodsaak om die werknemers na ’n gastehuis te skuif.

Hulle kyk nou na die eienaars van die huis om vir die gastehuis se verblyf te betaal. In Hillside by Michausdal, wat veral sukkel met water, is daar ’n gesin wat op 24 Oktober ’n huis betrek het, wat tot en met 23 November nog géén water gehad nie.

Moedelose inwoners van die dorp het reeds die TV-program Carte Blanche genooi om ondersoek te kom instel. Daar is ook ’n petisie opgestel dat water- en rioolvoorsiening terug na Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) oorhandig moet word. Dié petisie sal aan Fikile Xasa, LUR vir koöperatiewe bestuur en tradisionele sake, asook die speaker van die Oos-Kaapse wetgewer, Noxolo Kiewiet gerig word. Dit word tans deur inwoners van Cradock en Middelburg onderteken en ’n totaal van 5 000 handtekeninge word verwag.

In die petisie word onder meer klagtes van riool in die rivier, lekkasies, gebrek aan watervoorsiening in groot gebiede van die dorp, verstopte rioolpype, CHDM se onvermoë om korrekte en wettige rekeninge te lewer en probleme met die opening van nuwe waterrekeninge, genoem.

CHDM het meer as vier jaar gelede riool- en watervoorsiening van IYM weggeneem en sedertdien is daar aanhoudende probleme met sowel watervoorsiening, riool en die lewering van korrekte rekeninge.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article