VREUGDEVURE het hoog gebrand toe die eksamenuitslae van 2019 se matrieks verlede week op Cradock bekendgemaak is.

By die Hoërskool Cradock, waar 72 kandidate die eksamen afgelê het, het drie leerlinge A-gemiddeldes behaal. Hulle is Pieter Ben Smit (86%), Ian Schoeman (85,5%) en Willem Karsten (81,3%).

Volgens Carl Snyman, onderhoof van die skool, is hulle hoogs tevrede met die uitslae, wat beduidend verbeter het ná die rekordeksamen in September.

By die Hoër Landbouskool Marlow, waar daar 37 kandidate was, het 36 leerlinge geslaag en is Johannes Erasmus die topkandidaat met 84%. Die skool is ook tevrede met sy uitslae en Rudi Kriel, woordvoerder, het bevestig dat verskeie kandidate aansoek gedoen het dat van hul vraestelle weer nagesien word.

Vyf van die ses hoërskole in Cradock het ’n slaagsyfer van hoër as 95% behaal.

Die gemiddelde slaagsyfer is 98% wat die hoogste van ’n distrik in die provinsie is.

Ander uitslae is: die J.A. Calata Hoërskool met ’n slaagsyfer van 98.5%; die Michausdal Hoërskool met 95,91% en Cradock Korrektiewe Dienste het voortgebou op sy rekord van ’n slaagsyfer van 100% sedert 2016.

Die Matthew Goniwe Hoërskool het verbeter na ’n slaag- syfer van 68,18%.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article