MARIETJIE Opperman van Cradock was destyds nog ’n baie aktiewe lid van die Vroue-landbouvereniging (VLV) toe sy vir die Kaapland VLV se provinsiale gebak-kompetisie ingeskryf het.
“Die tema vir daardie jaar was ’n ‘tradisionele gereg, eie aan jou omgewing’. Ek het dadelik besluit ek gaan my skoonma se doekpoeding maak, maar doekpoeding is nie juis eie aan Cradock nie, want ek verbeel my die Voortrekkers het oral waar hulle ossewaens gestaan het, doekpoeding gemaak,” het sy gesê.
’n Plan moes gemaak word om die doekpoeding eie aan hulle omgewing te maak en Opperman en haar skoonma, Vida, het toe saam besluit dat sy twee eetlepels turksvystroop by haar lekker bottersous, wat sy altyd saam met doekpoeding bedien, gaan voeg.
“Sal ek ooit die vreugde op ons VLV-voorsitter se gesig vergeet toe sy my meedeel dat my doekpoeding eerste prys behaal het,” het Opperman vertel. “Dit het behels dat ek saam met die ander VLV-sirkel se wenner, in Oktober van daardie jaar, in die SASKO-kombuis in Kaapstad moes gaan meeding om ’n provinsiale wenner aan te wys.
“Nou kom die groot skep nostalgie. Voordat ek in Oktober in Kaapstad kon gaan meeding, is Ma Vida onverwags in haar slaap oorlede. My seer hart was oorspoel met dankbaarheid oor daardie laaste keer se saam beplan en die vreugde toe sy hoor ons plan het gewerk.
“Die doekpoeding met sy turksvystroop-sous was nie onder die drie wenners nie, maar darem onder die top-vyf,” het Opperman gesê.
Sy het ingestem om haar resep vir outydse doekpoeding met botter en turksvystroop met Mid-Karoo Express se lesers te deel.
Bestanddele
Doekpoeding
500ml koekmeel
500ml broodkrummels
250ml suiker
4 eiers
250g botter
500g vrugtekoekmengsel, kersies en dadels
5ml bakpoeier
5ml koeksoda
2.5ml sout
5ml kaneel
2.5ml gemengde speserye
5ml fyn gemmer
30ml kakao
30ml appelkooskonfyt
125ml fyngekapte okkerneute
400ml Old Brown-sjerrie
Botter en tursvystroop-sous
200ml suiker
250g botter
3 eiers
30ml turksvystroop
Metode
Doekpoeding
- Week die vrugtekoekmengsel, kersies, dadels en appelkooskonfyt vir ten minste 24 uur in die Old Brown-sjerrie. Hoe langer, hoe geuriger.
- Room die botter en suiker, voeg die geklopte eiers by en meng dit goed.
- Sif intussen die koekmeel, sout en bakpoeier saam. Voeg broodkrummels by die meelmengsel.
- Los die koeksoda op in ’n bietjie sjerrie en voeg by vrugtemengsel.
- Voeg die meelmengsel by die bottermengsel en meng goed.
- Voeg laaste vrugtemengsel by.
- Berei vooraf ’n linnedoek deur dit klam te maak, met botter te smeer en bietjie meel en fyn gemmer daaroor te sif.
- Plaas die doek binne-in ’n diep bak en skep die deegmengsel daarin. Die deeg moet omtrent net twee derdes van die doek vul sodat daar spasie is om te rys.
- Bind die bo-punte van die doek stewig met lyn vas. Plaas nou die doekpoeding bo-op ’n omgekeerde blikbord, in ’n groot kastrol, wat omtrent tweederdes vol kokende water is.
- Stoom vir ongeveer drie uur.
Botter en turksvystroopsous
- Smelt die botter en suiker in ’n dubbelkoker.
- Klits die eiers goed, voeg dit by die bottermengsel en roer tot dik.
- Voeg dan turksvystroop by en meng goed.
- Bedien saam met die doekpoeding.




