Ds. Attie van Wyk in Edinburgh, Skotland. Foto: VERSKAF


DOMINEE Attie van Wyk, geliefde predikant van Cradock Noord NG-gemeente vir die afgelope 11 jaar, verlaat Suid-Afrika gedurende die middel van Januarie om hom permanent in Skotland te gaan vestig.

Hy gaan na Lhambryde, ’n dorpie naby Elgin in die noorde van Skotland waar hy die enigste predikant vir ’n Presbiteriaanse gemeente van 340 lede sal wees.

Hy sê sy aanstelling is semi-staats en hy sal ook verantwoordelik wees vir huwelike en begrafnisse vir al 2 000 mense, insluitende Jode, Katolieke en nie-gelowiges van die dorp. Hy sal ook as kapelaan van die plaaslike laerskool dien.

Attie sê hy gaan nie weg uit Suid-Afrika oor poli-tieke of enige ander rede nie, maar dat hy – veral die afgelope twee jaar – herhaaldelik en op verskeie maniere daarop gewys is dat hy geroepe is om Skot-land toe te gaan.

“As ek kon kies, sou ek in Suid-Afrika, die mooiste land met al sy sonskyn wil bly,” het hy gesê. Hy het vertel dat hy vroeg in sy skoolloopbaan al die roeping as predikant ontvang het en dat hierdie roeping na Skotland net so duidelik en dringend en op verskeie maniere na hom toe gekom het.

Attie, wat oor ’n onbeskryflike musiektalent beskik, neem al sy musiekinstrumente, insluitende ’n doedelsak, vleuelklavier en orrel saam met hom na sy nuwe tuiste. “Die orrel by my nuwe gemeente is kleiner as my eie huisorrel,” het hy laggend vertel.

Sy twee honde, waarvan een se naam toevallig Scotty is, emigreer ook saam.

Die gebied waar Attie hom gaan vestig, is aan die Moray-kant van die Skotse Hooglande. Hy sien daarna uit om meer van die Skotse kultuur te ontdek en ook veral om die Noorderligte, wat sigbaar is van Lhambryde, te sien. Hy wil ook verder studeer en stel veral belang in geriatrie.

“Ek wil graag die Cradock-gemeenskap baie hartlik bedank vir die groot en positiewe impak wat hulle op my lewe gemaak het. Dankie vir hul oor-vloedige goedheid,” het hy gesê.

Dit blyk dat Cradock se kerkgeskiedenis hom ná 200 jaar herhaal. Ds. John Taylor van Skot-land, eerste predikant op Cradock, het in 1817 diens aanvaar. Attie van Wyk van Cradock gaan in 2019 diens in Skotland aanvaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article