GOEIE nuus vir inwoners van Cradock is dat die dorp se brandweerwa na Port Elizabeth gestuur is vir herstelwerk en dat die voertuig ook gediens sou word.
Groot skade was aan woonhuise en ’n munisipale stoor aangerig en ’n jong man het sy lewe verloor in die tydperk wat die brandweerwa buite werking was.
Nawethu Makwena (20) wat alleen in sy huis in Eugenestraat 39, Michausdal gewoon het, is vermoedelik deur rook oorval toe sy huis laat verlede Dinsdagaand begin brand het.
Makwena se stiefma, Anna Bester, wat in dieselfde straat woon, het vertel dat Makwena om 19:00 by haar aan huis was om sy aand-ete te kom haal. Die volgende wat sy ont-hou, is toe mense om middernag klippe op haar huis se dak gegooi het om haar wakker te maak. Makwena se huis was toe al in ligte laaie.
Mense uit die gemeenskap en die polisie het met emmers en tuinslange probeer om die vuur te blus, maar dit was te laat om Makwena se lewe te red.
Die oorsaak van die brand kon nog nie bepaal word nie.
Die plaaslike brandweerwa se hoofwaterpomp is glo al vir ses maande buite werking en die tweede kleiner pomp het ongeveer ’n maand gelede ook onklaar geraak.
In die afgelope weke is minstens vier huise in brande verwoes en het die inwoners in party gevalle al hul aardse besittings verloor. In ’n brand in die munisipale stoorkamer in die park het vier trekkers en ’n klomp tuintoerusting uitgebrand.

