LEDE van die polisie in die Cradock-gebied het Mei op ’n hoë noot in misdaadbekamping begin deur nie alleen op verbode middels nie, maar ook op ’n vermoedelik gesteelde voertuig beslag te lê.
Volgens kapt. Lariane Jonker, polisiewoordvoerder, het ’n polisiespan wat in Cradock gepatrolleer het, ’n verdagte persoon met ’n groot sak in sy besit by die rylopers se oplaaiplek langs die pad na Middelburg sien sit.
Terwyl hulle hom deursoek het, het hulle R17 000 kontant in sy besit gevind.
Jonker het gesê ná ondervraging kon hulle vasstel dat die persoon sit en wag het vir iemand wat verbode middels by hom sou kom aflaai.
Die polisie het die saak opgevolg en ’n verdagte wat in besit van 1 001 mandrax-tablette en 201g tik betrap is, in hegtenis geneem.
’n Immigrant (37) is in verband met die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Verlede Saterdag het polisie op Tarkastad inligting ontvang van ’n voertuig wat in ’n gebou op die dorp versteek word.
Inligting is opgevolg en die polisie het op ’n silwerkleurige Kia Rio-motor afgekom.
Die motor is vermoedelik by Putnhaditjaba in die Vrystaat gesteel.
Twee mans van onderskeidelik 26 en 33 jaar is op ’n klag van motordiefstal in hegtenis geneem.
