DIE ligte in twee Oos-Kaapse dorpe bly vir eers aan nadat die munisipale raad en Eskom ’n voorlopige ooreenkoms bereik het.
Dié vertroulike skikking is verlede Donderdagmiddag op ’n raadsvergadering van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit bereik nadat Eskom verlede Dinsdag begin het om kragvoorsiening na Middelburg en Cradock te onderbreek.
Eskom het dié drastiese stap gedoen omdat die munisipaliteit nie gehou het by ooreenkomste om sy skuld van sowat R98 miljoen te vereffen nie.
Die raad het ook vir Xolela Msweli, die munisipale bestuurder, berispe vir sy planne om ’n interdik teen Eskom te bekom.
Msweli het vroeër in ’n verklaring gesê dié interdik teen Eskom sou Donderdag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor word. Dit was glo ook op die Chris Hani-distriksmunisipaliteit as tweede respondent gemik om hom vir R10 miljoen te dagvaar.
Dit volg op bewerings dat die distriksmunisipaliteit namens Inxuba Yethemba verlede Vrydag ’n betaling van R10 miljoen sou doen. Eskom het teen Maandag nog nie die geld ontvang nie en met die kragonderbrekings begin.
Vicky Knoetze, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Oos-Kaap, sê die Chris Hani-distriksmunisipaliteit het wél die R10 miljoen aan die munisipaliteit geleen, mits die interdik teen hulle teruggetrek word.
Sy sê die distriksmunisipaliteit gaan ook R15 miljoen beskikbaar stel om Inxuba Yethemba uit sy verknorsing te red.
Sosh Panzizo, Inxuba Yethemba se woordvoerder, het geen inligting oor die munisipaliteit se interdik gehad nie en gesê hy sal inligting verskaf as daar nuwe verwikkelinge is.
Intussen sal Frikkie Coetzee, ’n prokureur, namens Cradock en Middelburg se sake-en-belastingbetalersforum werk aan ’n onafhanklike interdik om Inxuba Yethemba te dwing om sy skuld aan Eskom af te betaal. Coetzee sal by regslui aanklop wat al sukses met soortgelyke aansoeke behaal het.
“Ons gaan kyk na ’n resep wat al voorheen gewerk het. Die plan is om die ligte aan te hou deur die munisipaliteit te dwing om Eskom te be-taal. Eskom kan nie onbeperk krag verskaf en nie sy geld kry nie.”
Volgens hom sal hulle die aansoek as dringend aan die hof voorhou.
“Dit is ’n baie moeilike situasie vir die inwoners, ondernemings en ouetehuise. Daar is so baie mense se geld in gedrang.”
Volgens statistieke wat Coetzee ontvang het, sal groot maatskappye op die dorpe sowat R800 000 ’n maand moet opdok vir kragopwekkers om hul ondernemings se deure oop te hou in- dien die kragonderbrekings voort- duur. “Dit is nie volhoubaar nie.
“Inwoners is gefrustreerd. Hulle het vir hul elektrisiteit betaal, maar die munisipaliteit betaal nie vir Eskom nie en inwoners ly nou daaronder.”

