Cradock hou hierdie naweek (21 tot 23 Oktober) hul landbouskou.
Volgens die president, Hendrik Opperman, is daar groot belangstelling en word die Vleismerino Oos-Kaapse kampioenskappe ook vanjaar op die skou beslis.
Hy sê die kleinvee-afdeling word goed ondersteun en al die perdestalle was lank gelede al vol bespreek. Saalperde en Walliese ponies word vanjaar op Cradock vertoon.
Mededinging om die gesogte Monty Gadd-trofee vir ‘n mansruiter op ‘n vyfgang perd word Vrydgaand om 18:00 beslis.
Uit die groot verskeidenheid stalletjies op die terrein, gaan minstens sewe van dié stalletjies lekker eetgoed verkoop – so niemand hoef honger te ly nie.
Opperman sê daar gaan baie kindervermaak wees wat die kleinspan lekker besig gaan hou.
Benewens die diere om te besigtig, kan mense ook die toutrekkery van die verskillende boereverenigings, asook die manewales van Cradock se 4×4-klub op ‘n baan wat spesiaal vir hulle opgerig is, geniet.
Daar sal ook van die nuutste motorvoertuie en trekkers te sien wees, terwyl die OP Veteraantrekker- en enjinuitstalling gewoonlik baie aandag geniet.
Saterdagoggend gaan daar ‘n hondeskou wees sodat die dorpenaars ook hulle deel kan doen.

