APRIL is Karoo Kosfees-maand op Cradock en die organiseerders het reeds ’n baie opwindende program wat deur almal geniet kan word, saamgestel.
Die fees, van 25 tot 28 April, begin Donderdag-aand by die Victoria Manor met die Silver Creek Mountain Band wat gaan optree, terwyl gaste heerlike Karoo-pasteie kan geniet.
Vrydag begin dinge bedrywig raak en begin dit om 10:00 met ’n plaasbesoek aan Lowlands naby Visrivier. Hier kan besoekers nie net lekker eet nie, maar ook hul eie okkerneute van die bome af pluk. Die besoek aan Mulberry Grove gee vanjaar vir die eerste keer geleent-heid vir besoekers om self by Elizwe Keramiek hul eie drie klein bakkies te vorm wat dan gebak en vir hulle aangestuur sal word.
Dié dag se meestersklasse sluit onder meer kaasmakery en ’n kuns-werkswinkel in.
Dag twee word afgesluit met ’n lekker party-tjie by The Palms waar Chris Brits vir musiek gaan sorg. Saterdag se meesterklasse sluit in die maak van ingelegde vrugte en kruiesouse, die gebruik van nuwe kombinasies speserye, bak van brood en koek en ’n herhaling van die de-monstrasie oor sagte kase.
Almal se gunsteling is die kosmark wat Saterdag en Sondag van 09:00 tot 16:00 by The Palms plaasvind. Saterdag en Sondag is daar ook verskeie gratis demonstrasies by The Palms en ’n demonstrasie oor die verwerking van wilds-vleis by True Living.
Die fees word vanjaar op Sondag afgesluit met ’n besoek aan die geskiedkundige Plankfontein waar piekniekmandjies bestel kan word. Die baie gewilde Swaershoek-bergfietsuitdaagwedren begin ook Sondagoggend om 08:00.
Volle besonderhede oor die naweek se verrigtinge kan verkry word by 083 257 8601.


