CRADOCK se baie geslaagde Karoo Kosfees is pas verby en die energieke span is reeds weer besig om ’n wonderlike Schreiner Skrywersfees op te tower.

Die program, vanaf 6 tot 9 Junie, is reeds beskikbaar en daar is pas aangekondig dat daar vanjaar afslagpryse vir gereelde feesgangers sal wees.

Volgens Lisa Ker, een van die organiseerders, kan besoekers vanjaar Vrydag of Saterdag ’n hele R100 per dag – of R250 vir albei dae – spaar as hulle ’n een- of twee-dae toegangskaartjie koop waarmee hulle die meeste van die programme van die dag kan bywoon. Werkswinkels en maaltye word ongelukkig nie by hierdie aanbod ingesluit nie.

Soos gewoonlik begin die Skrywersfees Donderdagmiddag met ’n vertoning van jong talent gedurende die Neville Alexander-gedenk talentfees in die Sonskyn Dienssentrum in Michausdal. Die hoof-feesprogram begin om 07:30 in die Victoria Manor met die bekendstelling van Dorothy Driver se nuutste boek, Olive Schreiner’s Poetics of Plants.

“Dit gaan ’n heerlike geleentheid wees met die bekendstelling van Bossieveld-jenewer, ’n skyfievertoning en kunsuitstalling deur Annari Oosthuysen,” het Amy Coetzer, een van die organiseerders, gesê.

Vrydag se hoogepunte is twee werkswinkels vir skrywers. In die oggend sal Chris Marais en Julienne du Toit meer vertel oor die wyse waarop hulle klein dorpies en droë dele van Suid-Afrika wat hulle gereeld besoek, beskryf, terwyl bekende Engelse skrywer Jo-Anne Richards in die middag ’n kreatiewe werkswinkel sal aanbied.

Vanjaar vorm die plaaslike Big Sky-avontuurbus deel van die program met uitstappies langs die walle van die Groot Visrivier en ’n spooktoer deur die plaaslike kerkhof. Aktiewe feesgangers kan ook Saterdagmiddag deel wees van ’n uitstappie na Oukop om van Olive Schreiner se geliefde plantjies te soek. Sessie Sekuna van die Groot Visrivier-museum sal die Cradock Skrywers-uitstalling in die museum aan die stapgroep voorstel.

Die gewilde feesmark wat Saterdag plaasvind, verskuif vanjaar na The Shed waar daar baie te koop, te eet en te geniet aangebied gaan word. By die geleentheid sal grootskaalse “blogger” Anje Rautenbach meer van haar 35 000 volgelinge vertel, Toast Coetzer sal praat oor sy nuwe liedjieboek The Last Days of Beautiful, en Martin Welz van Noseweek meer van die ‘verbode’ nuus. Clinton du Plessis en die skrywers Jo-Anne Richards en Fred de Vries sal ook optree.

In die namiddag sal Jurie Taljaard “stoepstories” vertel. Saterdag se program word afgesluit by Karoo Brew Art Café met kunstenaars Melina Smit en Die Bontkoei-orkes.

Sondag kan feesgangers reëlings tref om Olive Schreiner se graf te besoek.

Besoek www.karoowritersfestival.weebly.com vir meer inligting of skakel 083 257 8601.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article