Die modder gaan binnekort weer spat wanneer die Cradock 4×4 klub sy jaarlikse ope-dag hou. Foto:VERSKAF


DIT word weer tyd vir die Hardebaarde om met die Doringdrade te kompeteer in Cradock 4×4-klub se jaarlikse ope-dag wat op 4 Mei op De Doorns in Cradock sal plaasvind.

Volgens die organiseerders gaan die enjins weer brul as hulle die verskillende roetes aandurf.

Hierdie roetes is natuurlik ’n groot geheim tot die dag van die byeenkoms. Deelnemers kan reeds die oggend om 07:00 registreer waarna die roetes om 09:00 bekend gemaak gaan word.

Inskrywings vir die geleentheid is R300 per voertuig en etes en kampeerplek met warm storte en spoeltoilette is beskikbaar.

Die naweek begin reeds Vrydagaand wanneer hoender- en skaappotjies voorgesit gaan word.

Ná Saterdag se ontbyt kan die wiele begin rol en die modder begin spat. Die naweek word Sondag afgesluit met ’n heerlike plaasontbyt.

Inskrywings kan gemaak word by André Bezuidenhout by 082 651 8958 of Jaap van Wyk by 082 926 2279 te bel of stuur ’n e-pos aan cradock4x4@r63.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article