Duisende inwoners van Cradock het die strate ingevaar om te betoog teen die Inxuba Yethemba-munisipaliteit.

Foto: Verskaf

Een van die grootste optogte nóg in Cradock deur ontevrede inwoners, het vanoggend, 21 Februarie in dié dorp se strate plaasgevind. Die optog het voor die Inxuba Yethemba se munisipale kantore geëindig.

Die groep betogers het ook skoolkinders ingesluit aangesien van die skole op die dorp vir die dag gesluit was.

Inwoners van die dorp is raadop oor die gebrek aan dienste van die plaaslike munisipaliteit, die konstante onderbrekings in kragtoevoer, rioolstortings en stukkende strate.

Die onlangse aksie van die ANC-gedrewe munisipaliteit, wat volgens inwoners die laaste strooi was, is die heraanstelling van Lucky Malaudzi as finansiële hoof en ook dié van Mkhululi Mbebe as waarnemende munisipale bestuurder.

Op ‘n vergadering aan die begin van Februarie het die stadsraad gestem oor die toekoms van dié twee; en in die geval van Malaudzi is die Demokratiese Alliansie se voorstel dat hy nie weer aangestel moes word nie, met 10-7 stemme deurgevoer. Daar is ook besluit dat Mbebe se kontrak nie hernu sal word nie.

Op ‘n vergadering wat Vrydag 18 Februarie plaasgevind het, is albei daardie besluite deur die ANC geïgnoreer en beklee Malaudzi en Mbebe tans hul onderskeie poste.

Nog ‘n kwessie waarteen die optoggangers glo sterk kapsie gemaak het, is dat Mbebe ná 31 Oktober 2021 – toe sy kontrak geëindig het – tot nou toe ongeldig as waarnemende munisipale bestuurder opgetree het.

Volgens Vicky Knoetze, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) in die Oos-Kaap, gaan die DA nie die saak daar los nie en het sy reeds ‘n skrywe aan Xolile Nqatha, COGTA LUR, gerig met ‘n versoek dat die saak dringend ondersoek moet word.

“Die saak aangaande IYM is ernstig en kan enige oomblik ontplof,” het sy gesê.

Nie die burgemeester of enige ander munisipale amptenaar, of die organiseerders van die optog was beskikbaar vir kommentaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article