CRADOCK Landbougenootskap se jaarlikse skou, ’n plek waar ou vriende mekaar weer raakloop, word eerskomende naweek op die dorp gehou.

Volgens die organiseerders gaan dit vanjaar ’n spoggeleentheid wees met baie om te sien én om te doen.

Hendrik Opperman, president van die landbouskou sê vanjaar gaan hulle een van die beste skoue in jare aanbied.

“Ten spyte van die droogte is die skoudiere in goeie kondisie. Dit is in ’n groot mate te danke is aan besproeiingslande langs die Visrivier,” het Opperman gesê.

Daar gaan vanjaar ses kleinveerasse op skou wees met die vleismerino’s se Oos-Kaapse- en die Persiese skape se Suid- Afrikaanse kampioenskappe wat op Vrydag en Saterdag beslis gaan word.

Die skou skop vandag af met die beoordeling van die inskrywings vir die lusern-skou.

Vyfgang perdeprag

Na verneem word is die perdestalle reeds vol met 190 saal- perde en Walliese ponies wat ingeskryf is. Die hoogtepunt tussen al die pronkende saalperde is gewoonlik dié klas wat Vrydag om 18:35 plaasvind. Hieraan mag slegs mans op vyfgang-perde deelneem. Die wenner al met die bykans twee kilogram soliede silwer Monty Gadd-trofee, waarom daar al meer as 80 jaar meegeding word, wegstap.

Jeugskou & wolbaaldra

Die jeugskou, waar jonges diere wat hulle die hele jaar lank versorg het gaan vertoon, word Vrydag vanaf 08:00 in die BKB-arena gehou. Hier sal van ’n hoenderhaan tot ’n brullende Jersey-bul te sien wees.

Daar is vanjaar meer as 60 stalletjies by die skou en vermaak vir oud en jonk.

Vrydag en Saterdag kan skougangers hul vergaap aan wolbaaldra-deelnemers, wie se bene behoorlik onder die gewig van ’n wolbaal bewe. Daar sal ook toutrek aangebied word.

Dans & Skoukoningin

Die skoudans is Vrydagaand en Chris Brits se orkes gaan hul beste lewer. Die mooiste dame sal dan ook as Skoukoningin gekroon word.

Vanjaar se skou bied ook weer ’n damesafdeling aan en daar gaan ’n roosskou, huisvlyt kompetisies vir hekel, gebrei, gebak en gebottel, ’n kunskompetisie en ’n fotografie-kompetisie wees.

Daar is ook ’n babaskou, kostuumkompetisie, hondeskou, baie kindervermaak, skoustap en fietsry om aan deel te neem.

Die uitstalling van veteraanmotors en –trekkers behoort ook baie interessant te wees.

  • Vir meer besonderhede kontak Freda by 082 843 7110.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article