Barto en Anna-Mart Janse van Rensburg wys hoe hoog hulle mielie-oes is.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Terwyl plase in die Visrivieromgewing van Cradock-distrik sedert Oktober verlede jaar tot sowat 225mm reën gehad het, is daar steeds plase in die Samenkomst-omgewing waar vanjaar slegs 32mm aangeteken is.

In ’n uitsonderlike geval het 92mm reën binne ’n uur by Willie Jordaan van die plaas Merino in Swaershoek geval en baie skade veroorsaak.

Volgens Hilton Collett, voorsitter van die Cradock Distrikslandbou-unie, is die reënval by Visrivier die beste die afgelope agt jaar.

“Dit het vanjaar vroeër begin reën en die meeste buie was sag en deurdringend wat goed is vir die veld. Maar daar was nie eintlik afloopwater om fonteine te voed nie,” sê Collett.

Wat die sprinkane betref, is daar baie ge-spuit in die gebied en daar is sedert middel-Desember nog nie weer sprinkane gesien nie.

“Hulle het ongelukkig in die vorige seisoen kans gehad om baie eiers te lê. Ons is ook bekommerd oor dié wat nou in die Noord-Kaap uitbroei en oor sowat 45 dae vlieërs sal wees. Met ’n wind in hul guns kan hul dalk hier by ons opdaag.”

Herman du Plessis van Samenkomst, het gesê dat die veld in hulle gebied redelik goed was na die Desember-reën, maar dat die uitsonderlike hoë temperature van Januarie die veld ’n knou gegee het.

“Veldwater is skaars en die fonteine is nog droog. Die ouens hier by ons is maar skugter om met aanplantings te begin en sommige het nog nie voldoende drinkwater nie,” sê Du Plessis.

Volgens Collett sukkel die oewerboere in die nat toestande om lusern van goeie kwaliteit te lewer. Dit teenoor boere by Elandsdrift wat nog nie aanplantings kon doen nie aan-gesien hulle damme en die Commandodrift-dam net 12% water het en Arthurmeer is dolleeg.

Die Grasrugdam is egter vol en die Gariepdam loop al vir baie weke oor.

Collett sê die ander kwelpunt is dat boere op die oomblik sukkel met hoë produksie-koste. Hy verduidelik dat skeepsprobleme asook ’n wêreldwye tekort aan kunsmis veroorsaak het dat die prys van kunsmis met 400% gestyg het, terwyl brandstof en mielies, weens vloede in die Vrystaat, op die oomblik ook baie duur is.

“Gelukkig het die pryse van vleis, wol en melk darem ’n bietjie verbeter,” sê Collett.

’n Ligpunt is dat boere baie dankbaar is dat die Chris Hani-distriksmunisipaliteit in samewerking met die department van vervoer, ná jarelange vertoë, eindelik besig is om plaaspaaie te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article