Zana Hansen en Koyo Yipha by die duisende liter water wat vanaf Cradock na Adelaide vervoer is. Foto: VERSKAF

DIE Cradock Gemeenskapsforum is nog volstoom aan die werk om die dorp en sy omgewing skoon te maak en te verfraai.

Dié groep is so begeesterd dat hulle ook intussen gemeenskaps-diens aan omliggende streke lewer.

Hulle het onlangs sowat 23 000 liter water na Adelaide, ’n buurdorp wat geweldig swaar kry weens ’n gebrek aan water, gestuur.

Die projek is begin deur Zana Hansen, wie se vriendin, Dalene van Staden van Adelaide, haar vertel het van die knellende droogte en dat diere in die dorp se strate vrek weens ’n gebrek aan kos en water.

Zana het onmiddellik die Gemeenskapsforum daaroor ingelig en skenkings water het uit alle oorde ingestroom.

Uiteindelilk kon daar ’n 10 000 liter, twee 5 000 en twee 2 500 liter Jojo-tenks plus ’n groot aantal 5 liter bottels sowel as ’n reuse verskeidenheid twee- en een-liter bottels water na Adelaide gestuur word.

André Thompson, wat van die Jojo-tenks beskikbaar gestel het, het ook sy vragmotor gratis beskikbaar gestel om die water na Adelaide te vervoer. Die drywer, Koyo Yipha, het die swaar en kosbare vrag na Adelaide vervoer.

Dit was reeds skemer toe hy by sy bestemming aangekom het, maar volgens Van Staden het mense reeds van 14:00 af begin saamdrom om te wag vir die vrag water.

Die Cradock Gemeenskapsforum word bedank vir hulle omgee, hulp en ondersteuning in die erge droogte aan mens en dier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article