Schiza is nou blink en gesond na ’n paar weke by die Cradock Dierebe-skermingsverening. Foto’s: VERSKAF


WAARSKUWING: Sommige foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Cradock se Dierebeskermingsvereniging se hokke is vol. Tóg word daar daagliks óf rondloper diere, óf diere wat nie meer deur hulle eienaars versorg kan word nie, ingebring.

Volgens Ninke Duvenhage, woordvoerder van die groep wat hulle ontferm oor diere wat nie huise het nie, het die publiek nie begrip vir die feit dat hulle nie nóg diere kan inneem nie. Die vereniging versorg tans 40 klein hondjies, 25 volwasse honde en 20 katte.

“Ons hokke is propvol. Ons het al aangebou en die woonstel op die perseel omgeskakel in hokke. Alles is vol. Ons kan nie die toevloei van honde en selfs tewe met pasgebore werpsels wat ingebring word akkommodeer nie,” sê Duvenhage.

Volgens haar gebeur dit gereeld dat mense “’n oulike klein hondjie koop, ’n groot ophef maak, maar volgende jaar as die hond groot is en baie eet en ewe skielik kleintjies kry, is daar niks ouliks meer oor dié hond nie en danbegin die verwaarlosing.”

Wat die krisis vererger is dat daar mense is wat wegtrek en hulle diere aan eie genade oorlaat.

“’n Ander groot bekommernis is onwettige hondegevegte wat gehou word.

“Ons het honde gekry wat baie verniel is. Ons ken dié honde uit aan hulle slagtande wat afgevyl is. Dit is duidelik dat hulle nie meer kan baklei nie en dan word hulle ook aan eie genade oorgelaat,” sê Duvenhage.

Hoe kan die gemeenskap help

Duvenhage sê die honde by die vereniging eet daagliks sowat 100kg se hondekos. Benewens die groot kosrekening, waarmee hulle gedeeltelik hulp van inwoners van die dorp ontvang, moet twee arbeiders se lone, sowel as water- en elektrisiteitsrekeninge ook nog betaal word.

Inxuba Yethemba-munisipaliteit het onlangs aan die vereniging 100-jaar gratis verblyfreg op die perseel gegee, maar, die vereniging is vir alle onderhoud verantwoordelik.

Die publiek word ook uitgenooi om met van die honde te gaan stap. Leibande word voorsien en die uitstappie word gewoonlik deur beide die honde sowel as die vrywilligers geniet.

Resepteboek met ’n verskil

Die Dierebeskermingsvereniging is tans besig met ’n projek waarmee hulle beproefde resepte in boekvorm wil uitgee om só fondse in te samel.

  • Vir meer inligting oor skenking en vrywillige diens, bel Ninke Duvenhage by 083 578 1401.

Schiza, uitgehonger en verwaarloos, toe die hond by Cradock Dierebeskermingsvereniging aangekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article