CRADOCK 4×4 Klub het gesorg vir goeie opwinding met die aanbied van ’n interklub-kompetisie tydens hul jaareindfunksie.
Klublede het vroegdag met hul viertrek-voertuie op die klubbaan opgedaag, reg vir ’n dag propvol adrenalien-belaaide 4×4 uitdagings.
“Die baanmeester het gesorg vir ’n besondere interessante en uitdagende baan, wat tegnies goed uitgelê is,” sê Bernard Costerus een van die klublede.
Buiten die viertrekaksie was teiken- en kleiduifskiet deel van die kompetisie.
Volgens Costerus het die hindernisse ook vir groot vermaak gesorg. Veral die kommentaar en kantlynraad van toeskouers soos: “Probeer tweede rat” of “gee meer vet”.
By die prysuitdeling was klublede verras toe Riaan Opperman en Maryke Costerus hul ouers, wat ook deelgeneem het, onder die stof gery het. Opperman het die beker vir die mees entoesiastiese drywer gekry. Eugene Gerber is aangewys as die drywer wat die beste vordering getoon het.



