PANIEK is verlede Saterdag op Cradock gesaai nadat daar op sosiale media gesê is ’n Chinese vrou, wat pas uit China teruggekeer het, is op die dorp onder kwarantyn geplaas weens die coronavirus (COVID-19).
Kaptein Lariaan Jonker, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig in ’n verklaring wat uitgereik is deur die kantoor van die Provinsiale Kommissaris in die Oos-Kaap.
In die verklaring word gesê dat ’n Chinese vrou wat op Cradock woon, op OR Tambo- lughawe verklaar het dat sy pas uit China terug is. Sy is getoets en aangesê om haarself vir twee weke by haar huis te isoleer.
Jonker sê volgens die departement van gesondheid toon die vrou geen tekens van die coronavirus nie, maar dat die departement haar monitor.
Die vrou het op 1 Maart op OR Tambo geland en op 4 Maart op Cradock aangekom. Dit is nie bekend hoe die vrou vanaf Johannesburg na Cradock gereis het nie.
Sover vasgestel kon word bly die vrou saam met familie in ’n huis agter een van hul besig- hede in Adderleystraat op Cradock. Hulle het nog ’n onderneming in dieselfde straat en beweeg tussen die twee winkels om kliënte te bedien. Die winkel met die woonhuis is Saterdag, 7 Maart, net ná 14.00 deur Cradock se gesondheidsinspekteur in die teenwoordigheid van die plaaslike polisie, gesluit.
Gerugte oor die moontlike eerste geval van corona op Cradock het sosiale media aan die brand gehad en sommige inwoners was paniekbevange terwyl ander dit afgemaak het as valsnuus.



