DIE top-7 seuns- en meisietennisspelers van die Laerskool Cradock het op 24 Oktober na die Paarl vertrek om aan die jaarlikse Gerrie Berner-tennistoernooi te gaan deelneem.
Cradock se meisiesspan se eerste wedstryd was teen Swellendam. Hulle het die wedstryd gemaklik met 12 punte teenoor ses gewen. In die tweede wedstryd het hulle weer eens as oorwinnaars teen Paarl Gimnasium se B-span, met 17-2 van die baan gestap.
In hul derde wedstryd teen De Hoop was die kompetisie sterker en, al het hulle die wedstryd verloor, het hulle nie moed opgegee nie.
Die CLS-seunspan moes ná afloop van die enkel-kragmetings al drie hul dubbelspelwedstryde teen Paarl A-span wen, om ’n oorwinning in hul eerste wedstryd van die toernooi te verseker. Die gasheerskool was egter té sterk en CLS het die wedstryd verloor.
Die Cradock-seunspan kon ook nie teen Eikestad die mas opkom nie. Hulle het egter nie bly lê nie en het die derde wedstryd van dag een teen Noord-Eind met 18-2 afgesluit.
Op 26 Oktober was die CLS-meisies in ’n verbete stryd teen Paarl Gimnasium se A-span gewikkel, maar die meisies het nie moed opgegee nie. Ook teen die Laerskool Stellenbosch het hulle end-uit hul bes probeer. Alhoewel hulle albei hierdie wedstryde verloor het, is waardevolle ondervinding opgedoen.
CLS seuns het ’n naelbyt-wedstryd teen Courtrai gespeel en net-net verloor. Daarna het hulle teen Stellenbosch te staan gekom en die wedstryd met baie deursettingsvermoë aangepak en uiteindelik daarin geslaag om met 13 punte teenoor 11 te seëvier.
Die laaste dag van die toernooi het té gou aangebreek, want die spelers het ná afloop van elke dag se wedstryde heerlik weggelê aan die lekker kos en hulle het baie pret by Picardi-gasteplaas, waar hulle tuisgegaan het, gehad. Op dag drie het CLS kragte teen Rhennish en Eversdal gemeet.
Tydens die prysuitdeling is die uitslag van die toernooi bekend gemaak. CLS-meisies was in die agtste plek uit 16 spanne en die CLS-seuns het die 10de plek uit 16 spanne behaal.
Die spanne was deur Wessel Potgieter en Liezl Botha vergesel.



