HONDERDE atlete van regoor die Oos-Kaap het op Cradock toegesak vir die jaarlikse laerskole atletiek kampioenskappe.
Altesaam 24 atlete van die Laerskool Cradock het deelgeneem.
Op Vrydag is veral die baanatlete se staal behoorlik getoets, wat lank moes wag vir hul items om plaas te vind nadat die program met amper twee ure agter geraak het. Die meeste van die skool se hekkies atlete het dit tot in die finaal gemaak. Die finale was eers die Saterdagoggend gehardloop.
Die baanatlete het ook goed gevaar en waardevolle ondervinding opgedoen. Deano Masoling het ’n bronsmedalje in die seuns o.12 hoogspring verower. Buhle Mgqibela het ook in haar 200m-finaal ’n silwer medalje verwerf.
Die finale van die kort afstand hekkies het Saterdagoggend plaasgevind. Tuané Taai, Megan da Camara, David de Klerk, Johan Karsten en Paul Steyn het almal tot die finale deurgedring.
Paul het ’n goeie 80m hekkies wedloop gehardloop en ’n silwer medalje verower. In die 200m hekkies finaal, het Paul weer goed gehardloop en ’n 3de plek verower te midde van baie sterk kompetisie.
Buhle het toe die pawiljoen in ekstase gehad toe sy in die 100m finaal ’n goue medalje verower het.
Laerskool Cradock is trots op Paul Steyn en Buhle Mgqibela wat verkies is tot die Oos-Kaap span.



