CHDM ontvang miljoene om water- en sanitasieprobleme aan te spreek


’n VERGADERING om die voortslepende riool- en waterprobleme te bespreek, is verlede Donderdagaand in die stadsaal op Cradock gehou en alhoewel hierdie saak almal in die dorp raak, was die opkoms teleurstellend.

Robbie Venske en Monde Desha, albei raadslede van Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) het die vergadering gelei. Alhoewel CHDM se waarnemende munisipale bestuurder en die direkteur van die ingenieursdepartement glo ook genooi was, het hulle nie opgedaag nie.

Venske het die verblydende nuus gebring dat CHDM R35 miljoen ontvang het om water- en sanitasieprobleme in Cradock en Middelburg te probeer oplos. Volgens hom sal Cradock se hele waterstelsel opgradeer kan word.

Hy het ook bygevoeg dat die program JoJo-tenks vir die gevangenis en ’n nuwe reservoir vir Hillside sal insluit.

Water- en rioollekke in die strate, op die sportterrein en in die spoorwegkamp, sowel as leë krane in groot dele van die dorp en foutiewe waterrekeninge is maar enkele van die probleme wat ondervind word.

Ná verneem word is daar inwoners van Hillside wat die afgelope drie maande reeds sonder water is.

Hierdie mense het vroeg verlede week eindelik genoeg gehad en uiting aan hul frustrasie gegee deur die pad na Tarkastad met klippe en brandende bande te versper.

Volgens Venske is tenders vir die opgradering van Cradock se rioolstelsel al toegeken en sal die kontrakteurs in Februarie begin werk.

Venske en Desha het belowe om ’n volledige verslag van al Cradock se probleme op te stel en voor CHDM te lê.

Tydens vraetyd is groot kommer uitgespreek oor die tyd wat nog verlore sal gaan voordat hierdie werk, waarmee eers in Februarie begin sal word, voltooi sal wees.

Intussen word ’n petisie deur inwoners van Middelburg en Cradock om water- en rioolwerke weer terug aan Inxuba Yethemba-munisipaliteit te gee, baie goed ondersteun en word daar beoog dat dit binnekort na die owerhede gestuur sal word.

CHDM het op 1 Julie 2014 water- en rioolaangeleenthede van IYM af weggeneem en sedertdien word eindelose probleme met die administrasie en lewering van hierdie dienste ondervind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article