Benetton Treviso se rugbyspan het ’n foto saam met Celtis se personeel geneem. Hulle speel hierdie Saterdag teen die Southern Kings in Port Elizabeth. foto:JOHANETTE PHOTOGRAPHY


DIE Italiaanse rugbytoerspan, Benetton Treviso, wat op 24 November teen die Vrystaatse Cheetahs in Bloemfontein gespeel het, het Sondag onderweg na Port Elizabeth, middag-ete by Celtis Country Lodge en restaurant op Middelburg kom geniet.

Benetton Treviso rugby is ’n Italiaanse rugbyspan wat in die Guiness Pro14 en Europese rugbykampioene-beker meeding.

Die klub is in 1932 gestig en het 15 Italiaanse nasionale kampioenskappe gewen. Treviso neem sedert 2010 aan die Pro14 deel en het voorheen in die Italiaanse plaaslike kompetisie deelgeneem.

Riaan en Annelie van der Ryst, eienaars van Celtis Country Lodge en restaurant, was aanvanklik eers heel onkant gevang met die oproep wat Annelie van die reisagentskap uit Italië ontvang het.

Waarom die toerspan juis in Middelburg sal wil aanklop vir middagete, het vir haar heel vreemd geklink. Daar moes aan sekere vereistes moes aan voldoen word en ná ’n bietjie navorsing en verdere kommunikasie met die reisagent, het Celtis dadelik besluit om vir hierdie spesiale geleentheid ’n heerlike eg Suid-Afrikaanse feesmaal vir die 40 spelers voor te sit.

Ná ’n vinnige groepfoto saam met Celtis se personeel, het die spelers dadelik die keurig voorbereide eetsaal ingestroom om hul honger te stil. Die aroma van varsgemaalde koffie het die ete afgerond en die kelners moes behoorlik rondtrippel om al die spelers met Celtis se geurige Espresso’s te bedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article