DIT is die maand Desember van die jaar 1995 en ek (50 jaar) gaan wys vir my oudste seun (20) my geboorteplaas in die Karoo naby Middelburg.

Gewapen met ’n rugsak vol padkos, drinkgoed en die toestemming van die huidige eienaar, hou ons langs die opstal onder die groot peerbome stil.

Ek besluit om eerste vir hom Popkloof te gaan wys. Die son is warm en ons maak beurte om die rugsak te dra. Teen middagete bereik ons Popkloof en ons gaan sit in die skadu van een van die klippoppe en smul aan ons padkos.

“Hulle noem hierdie kloof Popkloof omdat, as jy daar in die pad verbyry en jy kyk af in die kloof, lyk hierdie klipstapels soos poppe wat hier teen die kloofrand staan.”

“Hoe het hierdie klipstapels ontstaan, Pa? Dit lyk of iemand met ’n hyser hierdie reuse dollorietblokke opmekaar gepak het. Hierdie een, in wie se skaduwee ons sit, is seker drie tot vier meter hoog en die blok wat die voetstuk vorm is maklik vyf meter wyd en twee meter hoog. Dit weeg seker ’n paar ton!”

“Dit is deel van die wonder van die skepping. Party wetenskaplikes beweer dit is lawa wat opgestoot het deur gate in die aardkors en oor die eeue het erosie die grond rondom dit weggespoel om lawa pilare bloot te lê. Die lawa is deur uiterste temperatuur-wisselings oor baie eeue gekraak en gebars om dolorietblokke te vorm.”

Ná middagete klim ons die kloofrand uit en tot ons verbasing is daar ’n plato bokant die kloof waar daar letterlik honderde klippoppe staan.

“Hier kan mens huise bou en soos die dassies tussen die klippe bly!”

“Ja, Pa moet vir oom Hennie, die argitek, hierheen bring, hy sal iets spesiaals ontwerp”.

Die plato eindig aan die noord-ooste kant teen Brulberg, bonkig hoog, byna 2 000m, en lank soos ’n uitgerysde bakkersbrood, verdwerg hy alles rondom hom. Volgens Khoisan oorlewering is dit die berg waar koning leeu sy brul gekry het deur die eggo van die groot grot as ’n klankversterker te gebruik!

Terug in Pretoria sit ek die wiele aan die rol! Ek en ses vriende stig ’n maatskappy, kry finansiering en koop 10 000 hektaar grond rondom Brulberg. Argitek Hennie snak na sy asem toe ek hom die popplato gaan wys en verseker my dat dit ’n besonderse dimensie aan die ontwerp gaan verleen.

“Ek gaan iets ‘magic’s’ hier doen.” Toe gebeur dit: die skeppingskrag van Skepper en skepsel kom bymekaar en vyf ongelooflik mooi huise van klip word tussen die klippoppe van Popkloof aan die voet van Brulberg gebou! Van buite dieselfde afwerking, maar binne verskillend.

Brulberg word tans as wildplaas bedryf en gedurende die jagseisoen bly die jagters in die huise, buite die jagseisoen staan dit gesluit. Nie-jagters is onbewus van hierdie unieke skepping! Seker een van die mooiste geheime van Middelburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article