VAN blokkies vir warm kom-berse tot meterlange serpe om volgende jaar se winterkoue uit te hou, was die mikpunt van die Hoërskool Cradock se verbruikerstudie-leerders, nadat hulle met ’n nuutjie begin het . . . om te brei!

Volgens Nelmarie van Wyk, onderwyser by dié hoërskool, was die graad 12-leerders effens onseker toe hul ná die lang inperking na die skool teruggekeer het. Daarom het sy besluit om hulle te laat brei, sodat hulle kon ontspan en weer gefokus raak voor die groot leer vir hul eind-eksamen.

“Sommige van die kinders kon brei, maar ván hulle het nog nóóit ’n breipen vasgehou nie. Almal was egter so opgewonde dat hulle gou-gou by ander geleer het hoe om die ding te doen,” sê Van Wyk.

Daar is besluit dat ’n kleiner projek vir hul makliker haalbaar sou wees en die groepie het begin om blokkies te brei wat aanmekaar vasgewerk is om komberse te maak.

“Ek het aangebied om die vasmaakwerk te doen en wat ’n werk was dit nie! Party blokkies van die outjies wat nog nie voorheen gebrei het nie was gaterig, maar ander was baie mooi. Dié wat te klein was, het ek randjies omgehekel en op die ou end kon ons ses komberse maak,” sê Van Wyk.

Twee van die komberse is reeds aan die plaaslike Kankervereniging geskenk.

Van Wyk sê die klomp jong breiers was so opgewonde en het dit so geniet dat hulle in voorleesklasse vir die onderwysers gevra het of hulle nie maar kan brei nie, want dit help hulle om te konsentreer.

“Ek het aanvanklik wol gebring en van die kinders het ook bygedra totdat ons uiteindelik van Saprotex in Oos-Londen ’n klomp bolle wol ontvang het,” sê Van Wyk.

Nou brei die graad 12-verbruikerstudie-leerlinge serpe wat hulle vir volgende jaar se winter aan minderbevoorregtes wil laat uitdeel.

Van Wyk sê die plan is om die serpe in bome of aan die kerk se heiningreëlings te laat ophang, sodat mense wat koud kry, dit vir hulle kan afhaal.

Nou nooi hulle die publiek om saam te brei om dié projek sommer ’n groot opgewondenheid te maak en meer mense te bederf met ’n warm serp vir die winter van 2021.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article