KOM haal vir jou ’n serp!
Dit was die ope uitnodiging van vroue op Cradock, wat Mandeladag twee weke voor 18 Julie gehou het nadat hulle die langtermyn weer dopgehou, besef het groot koue is oppad en toe hul Serpedag vervroeg het sodat die ontvangers darem iets warms om die nek kon hê wanneer die kouefront toeslaan.
Elsje Taljaard, een van die Serpedag-organiseerders, sê die aanvanklike plan was om serpe én komberse te brei waarmee hulle die trappe van Cradock se NG Moederkerk wou toepak.
“Toe ons die saak uiteindelik mooi bedink, het ons maar op net die serpe besluit,” sê Elsje.
Daar is uiteindelik byna 200 serpe en ’n paar gebreide mussies bymekaargemaak wat op drie plekke teen huise se heinings op pad dorp toe opgehang is. Enigeen wat ’n bietjie hitte teen die winterkoue nodig gehad het, kon kies en keur tussen dié helderkleurige serpe en een afhaal wat hul wou hê.
Die projek was die idee van ’n klompie Cradock-vroue wat hul medemens met iets bruikbaars wou bederf. Aanvanklik sou hulle ’n Saterdagmiddag saam koffie drink terwyl die breinaalde klap.
“Maar COVID-19 het ’n stokkie voor dié plan gesteek en toe besluit ons elkeen moet by haar eie huis brei,” sê Elsje.
’n Versoek vir bydraes van wol, serpe en musse is op sosiale media uitgestuur. ’n Hele paar serpe is ontvang en Hoërskool Cradock het wol geskenk.
Een van die serpbreiers, ’n 84-jarige inwoner van die dorp, wat verkies om anoniem te bly, het 110 serpe van 1.4 meter elk gebrei. Sy was baie verbaas om later te hoor dat as sy al haar serpe sou neerlê, dit meer as ‘n kilometer en ’n half lank sou wees.
Die vroue se oog op die weer en gevolglike vervroegde Mandeladag waarop hul hul serpe uitgehang het, was inderdaad een van die koudste dae nóg in baie jare. Dié dag was ook pensioendag en baie oues kon hul oë nie glo toe hulle kon kies en keur tussen die warm bonusse wat langs die pad dorp toe vir hulle opgehang is nie.


