Drie gesinne het groot skade gely, met sommige wat al hul aardse besittings verloor het, toe brande in hul huise in onderskeidelik Michausdal, Hillside en Lingelihle uitgebreek het.
Mid-Karoo Express het vroeër vandeesmaand berig dat Cradock se brandweer nie beskik oor die nodige toerusting om brande te blus nie. Na verneem word is die enjin wat vir die groot brandslang water pomp, reeds ses maande buite werking, terwyl die kleiner brandslang se motor nou ook buite werking is. Teen die afgelope naweek was dit nog nie herstel nie.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) het verlede Saterdag ook groot skade gely toe ’n brand in ’n munisipale stoor uitgebreek het.
Die eerste brand was op 15 Oktober in Eddie Minerstraat, Michausdal; gevolg deur twee brande in Hillside en Lingelihle op 17 Oktober. In van hierdie gevalle het inwoners alles, insluitende mediese toerusting en hul identiteitsdokumente, verloor.
By die huis in Manyanestraat, Hillside waar groot skade ook aangerig is, woon ’n oupa en ouma en ’n ma met twee kindertjies van onderskeidelik 4 jaar en 4 maande oud.
Lede van die gemeenskap en die polisie het by elk van die gevalle ingespring en probeer help om vure te blus.
“Maar, die gebrek aan ’n brandweer stel mense – wat nie opgelei is om brande te bestry nie – se lewens in gevaar. Hulle kan ook ernstig beseer word,” het Bettie Lawens, ’n DA-raadslid gesê.
Die brand in die munisipale stoor agter die Park-tennisklub het groot skade veroorsaak.
Volgens Xolela Msweli, munisipale be- stuurder, het vier trekkers en ander tuinge-reedskap uitgebrand en is die dak grotendeels verwoes. Die brand is omstreeks 11:00 Saterdagoggend ontdek toe ’n alarm by ’n sekuri-teitsfirma se kantore afgegaan het. Die brandweer kon in hierdie geval help om die vuur te blus, aangesien daar ’n brandkraan op die perseel was.
Msweli het lede van die gemeenskap en veral leerders van die Hoërskool Cradock van harte bedank vir hul hulp gedurende die brand.
Die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting.
Sonwabise Pansizo, Inxuba Yethemba se woordvoerder, het Mid-Karoo Express Maandagoggend verseker dat herstelwerk aan die brandweertrok se pompe eersdaags gedoen sal word. “Daar word nog net vir die nodige onderdele gewag voordat die werk gedoen kan word,” het hy gesê.



