Die eens gesellige klubhuis op Grootfontein is totaal verwoes deur ’n onverwagse brand.Foto:JOHANETTE PHOTOGRAPHY


DIE gholfklubhuis by Grootfontein Landboukollege is verlede Sondagoggend deur ’n verwoestende brand in puin gelaat.

“Wat die presiese oorsaak van die brand was, is nog onduidelik,” sê Tino Herselman, direkteur van die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut.

“Die vermoede is sterk dat ’n vonkie van ’n vuur wat moontlik deur onwettige houtmakers op die staatsgrond gemaak is oorgewaai het op die klubhuis se grasdak.

“Die droë veldtoestande, riete in die vlei asook sterk wind het die brand vinniger aangehelp.”

Die statige ou geuwelklubhuis met sy grasdak is in 1962 deur die personeel van Grootfontein gebou. Dit het egter ’n paar jaar gelede in onbruik verval en gevolglik is dit etlike kere deur booswigte geplunder.

“Die verval en brand is ’n hartseer saak vir die honderde oud-Grootfonteiners wat vroeër jare op die gholfbaan met sy oliesetperke en in die klubhuis gekuier het,” sê Herselman.

Die brandweer, verskeie helpers sowel as studente was vinnig op die toneel, maar hulle kon nie die verwoestende brand by die klubhuis vinnig genoeg keer nie.

’n Groot gedeelte van die riete in die nabyliggende vlei is ook afgebrand. Gelukkig is geen van die huise beskadig nie.

Vorige veldbrand

’n Veldbrand in Februarie vanjaar, agter die koppie aan die noordekant van die kollege se kantore, het tot die latere afsterwe van ’n personeellid Garth Visagie gelei.

Visagie, wat werksaam was by die plaasseksie op Grootfontein, het ernstige brandwonde opgedoen toe hy en mede-amptenare probeer het om die veldbrand te keer. Die voertuig waarmee hy gery het is in die brand vernietig.

Visagie is ongeveer ’n maand later in Port Elizabeth oorlede as gevolg van sy brandwonde asook die skade wat sy longe opgedoen het.

Grootftontein Landboukollege bedank almal wat hulp aangebied het om verlede Sondag se brand te help blus.

Dit sluit die munisipaliteit se brandweerspan, CDK Sekuriteit, boere uit die distrik, studente en personeel van die kollege in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article