Vlamme en rook borrel by die besigheidskompleks uit wat verlede Donderdag op Fort Beaufort aan die brand geslaan het.fOTO: NOLAN VENTER


SKAARS ’n jaar nadat ’n sitruspakstoor op Fort Beaufort deur ’n brand verwoes en honderde mense werkloos gelaat is, het nog ’n verwoestende brand verlede Donderdag ’n besigheidskompleks op dié dorp in puin gelaat.

Alhoewel daar geen lewensverliese gely is nie, het ’n aantal besighede wat in die kompleks gehuisves was in die slag gebly. Daar kon nog nie vasgestel word waar in die betrokke gebou die brand ontstaan het nie maar teen middagete verlede Donderdag was dit reeds ’n onbe-heerbare inferno.

Die brand wat in die historiese Millads-gebou in Campbellstraat op dié dorp gewoed het, het talle mense werkloos gelaat terwyl andere al hul besittings verloor het. Die gebou het onder meer ’n hardewarewinkel, skoenboetiek, meubelwinkel, haarsalon, asook ’n boekwinkel gehuisves. Die boekwinkel was die hartklop van vele skole in die Amatola-Wes-distrik.

Omdat die dorp oor slegs ’n klein brandweerwa beskik, moes watertrokke ingespan word om met die blus van die vuur te help wat net té vinnig deur die ganse gebou versprei het. Huurders wat in ’n paar woonstelle op die gebou se boonste verdieping gewoon het, is nou net met die klere wat hulle aangehad het, gelaat.

Terwyl die brand gewoed het, het nuuskieriges in verontwaardiging op ’n veilige afstand rondgestaan. Die brand is veral deur die vlambare materiaal in die kompleks aange- vuur.

Luidens Bernadine von der Decken, mede-eienaar van die kompleks, kon die omvang van die skade nog nie bepaal word nie. Sy het voorts gesê dat ’n forensiese ondersoekspan die kompleks die afgelope Dinsdag sou besoek het om vas te stel waar die brand ontstaan het.

Met Mid-Karoo Express se besoek aan die toneel verlede Vrydagoggend het die gebou nog gesmeul.

Die terrein was afgebaken en sekuriteitswagte het ’n ogie daaroor gehou omdat booswigte die vorige dag van die skoenboetiek se skoene weggedra het. Inwoners is veral bekommerd oor die impak wat die brand op dié dorp se ekonomie gaan hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article