’n 65-JARIGE inwoner van Willowmore, Cynthia Campher, is op 18 Mei oorlede nadat die Ford Figo waarvan sy die bestuurder was, die pad verlaat en ’n boom op die sypaadjie getref het.
Ooggetuies het die Suid-Afrikaanse polisie ontbied na die ongelukstoneel in Frederickstraat, en by nadere ondersoek het dit geblyk dat Campher die enigste insittende was.
Nooddienste het Campher op die ongelukstoneel gestabiliseer en dadelik na die Willowmore-hospitaal vervoer, waar sy later beswyk het.
’n Nadoodse ondersoek was geskeduleer vir Dinsdag, 21 Mei en intussen is ’n saak van strafbare manslag by die Willowmore polisiekantore geopen.
Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie. – ELSABÉ PIENAAR

