< Jeni Couzyn, stigter van die Bethesda Arts Centre, professor Pippa Skotnes, akademikus en kenner op die gebied van |Xam-geskiedenis, en Sandra Sweers, hoofkunstenaar by die sentrum, voor een van die reuse-tapisserieë wat deel uitmaak van die Boesman Erfenismuseum se permanente uitstalling. Foto: ELSABÉ PIENAAR


DIE splinternuwe Boesman Erfenismuseum op Nieu-Bethesda het sy deure amptelik oopgegooi op Woensdag, 28 November.

Die museum is ’n toevoeging tot die Bethesda Arts Centre, en huisves ’n versameling reuse-tapisserieë wat op permanente uitstalling sal wees.

Die tapisserieë is oor ’n tydperk van nagenoeg 15 jaar gemaak deur die 13 plaaslike kunstenaars/ Boesmanafstammelinge wat voltyds betrokke is by die Bethesda Arts Centre, en is uitbeeldings van die mitologie van die skepping soos verstaan deur die |Xam.

In die 19de eeu in Kaapstad het die linguis Wilhelm Bleek wonderbaarlik daarin geslaag om |Xam Boesman-gevangenes uit die tronk te laat onder sy voogdyskap.

Danksy die prisoniers se vertellings kon Bleek en mede-taalkundige, Lucy Lloyd, die kultuur en taal van die |Xam boekstaaf, en is dit in ’n versameling handgeskrewe manu-skripte in die Jagger-biblioteek in Kaapstad bewaar. Dié versameling is in 2007 deur professor Pippa Skotnes gepubliseer in “Claim to the Country”.

Jeni Couzyn, digter en psigoterapeut, het twintig jaar gelede ’n ou kliniekgebou op Nieu-Bethesda gekoop. Sy het ’n pad begin stap met inwoners van dié geïsoleerde gemeenskap in die Karoo, en saam met haar dogter, Tarot, kunslesse begin aanbied.

Uiteindelik het Couzyn die plaaslike kunstenaars van gemengde herkoms gehelp om hul wortels uit die Boesmankultuur te herontdek. “Ek glo die |Xam mitologie is deurspek van argetipiese betekenis en, soos met soveel ander inheemse wyshede, is dit van diepgaande relevansie vir die kontemporêre mensdom en die krisis waarin ons onsself bevind,” het Couzyn tydens die openingseremonie gesê.

Toetie Dow, leier van die San in die Oos- Kaap en verteenwoordiger op die Nasionale Raad van die San, het die opening van die museum bygewoon. “Dit ly geen twyfel dat die Boesman die eerste mense in hierdie gebied was nie, en verskeie rotstekeninge in die omgewing is tasbare bewys daarvan. Ons mense het ongelukkig baie verwester, maar dit is vir ons belangrik dat die kultuurerfenis van die |Xam moet herleef, bewaar word en aan die res van die wêreld ten toon gestel word,” het Dow gesê.

Die reuse-tapisserieë wat by die Bethesda Arts Centre gemaak word, het reeds wêreldbekendheid verwerf, en kommissiewerke word uitgestal in Australië, verskeie Europese stede, die Britse Museum in Londen en die Konstitusionele Hof in Johannesburg.

Die Boesmanerfenismuseum in Nieu-Bethesda kan besoek word tussen 09:00 en 17:00, sewe dae per week. Toegang kos R50 per persoon. Kontak 049 841 1731 of 082 795 8429.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article