Hidrobreking in Suid-Afrika is vir eers van die baan.

Dít nadat die appèlhof verlede week volstaan het by ’n beslissing van die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) dat die minister van minerale bronne buite sy mandaat opgetree het om omgewingsregulasies ten opsigte van onder meer die ontginning van skaliegas aan te kondig.

Derek Light.

Derek Light, regsverteenwoordiger van Agri Oos-Kaap, en honderde ander grondeienaars wat teen hidrobreking – ’n proses vir die ontginning van skaliegas – gekant is, het gesê ingevolge bestaande wetgewing moet die minister van omgewingsake sulke omgewingsregulasies aankondig en nie die minister van minerale bronne nie.

Die hooggeregshof in Makhanda het verlede jaar ten gunste van Agri Oos-Kaap beslis. Die minister het dié beslissing op appèl geneem, maar het die saak nou met koste verloor.

Met dié beslissing kom die dekade lange stryd tussen bekommerde boere en grondeienaars teen oliemaatskappye en die regering voorlopig tot ’n einde.

“Die uitspraak het ’n onmiddellik impak op skaliegasontwikkeling in Suid-Afrika en is ’n reuse-oorwinning vir landbou,” het Janse Rabie, Agri SA se beleidshoof vir natuurlike hulpbronne, gister in ’n verklaring gesê.

Light het gesê dit beteken “geen oliemaatskappy mag nou toestemming vir hidrobreking kry tot die regering ordentlike regulasies vir dié ontginningsproses in plek het nie – en die departemente van waterwese en omgewingsake moet by elke stap betrokke wees”.

Hy sê egter sy regsmoue bly opgerol.

“As jy teen die groot olie- of mynmaatskappye baklei, moet jy stamina hê, hulle gaan nie net weggaan nie. Dit verg moed van die mense wat betrokke was en is . . . hulle kan jou bank leegmaak.”

Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, het gesê die appèlhof se beslissing is baie goeie nuus.

“Tien jaar gelede het ons as ’n boeregemeenskap met Derek Light teen hidrobreking begin opstaan en nou pluk ons die vrugte.”

Karoo-grondeienaars se grootste kommer is dat hidrobreking, wat miljoene liter water per ontginningspunt nodig het en waarby chemikalieë gemeng word, die Karoo se grondwaterbronne onherstelbare skade sal berokken.

Light was skoon bewoë toe die beslissing bekend gemaak is.

“Ons wil hê die regering moet wettig optree. Hulle kan nie maak en breek soos hulle wil nie. Veral waar die uitwerking van so ’n ontginningsproses só ’n ingrypende uitwerking op die natuur kan hê.”

Ayanda Shezi, woordvoerder van die departement van minerale bronne, het gesê die departement sal die uitspraak be- studeer voordat hulle daarop reageer.

  • Die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) en AfriForum het in 2015 by die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen dat die minister van minerale bronne se ontginningsregulasies tersyde gestel moet word omdat hy buite sy mandaat opgetree het.

Die hof het teen TKAG en AfriForum beslis, waarna hulle dit op appèl na Bloemfontein geneem het. Hul appèl is toegestaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article