GRAHAM, die Cradock-boer van dié seisoen se Boer soek ’n vrou, is tot oor sy ore verlief en sy Ilne se oë skitter elke keer as sy na hom kyk.
Kupido se pyltjie het Graham Lombard en Ilne Prinsloo hoog getref en die twee is onafskeidbaar. Hulle beplan ernstig dat Ilne haar tuisdorp, Potchefstroom, verlaat en Cradock toe trek. Sy is van plan om ’n werk op Cradock te kry en haar studies deur die pos te voltooi.
“Ek het die aand van die braai al geweet Graham is die een vir my,” sê Ilne.
“Sonder die program was ons kanse om mekaar te ontmoet feitlik nul,” vertel die twee. Potch en Cradock is net te ver van mekaar dat dit sou gebeur, sê Graham. Hulle is dus bly hulle het ingeskryf.
Hoewel hulle die program baie geniet het en baie goed met die ander deelnemers oor die weg gekom het, is hulle albei bly dat dit alles verby is en dat hulle nou met hul normale lewe kan voortgaan.
Albei het wonderlike herinneringe wat hulle sê hulle nie sonder die program sou gehad het nie.
Een daarvan was toe hulle gaan rekspring het. Graham sê hy was so senuagtig dat hy al die toue en knippe sorgvuldig getoets het voordat hy gespring het. Ilne het net oë toegeknyp en gespring.
As Ilne op die plaas kuier, val sy gemaklik in by alles wat die gesin doen, vertel die paartjie. Sy doen Zumba-oefeninge saam met Graham se ma, Celeste, of help in die huis. Sy is ook lief daarvoor om saam met hom op die plaas rond te ry. Sy pas ook goed in by Graham se ooms en tannies en die res van die groot Lombard-familie.
Al het Ilne geluk gevind op die program, meen sy dit is belangrik vir diegene wat wil inskryf dat hulle onthou hul waarde lê nie daarin of hulle gekies word of nie.
Sy sê ’n mens moet jouself eers leer ken voordat jy liefde soek.




