“DROOGTE is ’n herhalende verskynsel in die ariede en semi- ariede gebiede van Suider-Afrika en twee gebeurtenisse waarvan mens seker kan wees is dat dit weer gaan reën en weer gaan droog word.”

Só sê dr. Louis du Pisani, skrywer van Slim Droogtebestuur vir Veeboere.

Du Pisani sê die onsekerheid oor droogtes maak dat sommige boere nie vooruit beplan nie. Dit is egter belangrik om pro-aktief te wees.

Volgens hom was daar in die verlede goed bestuurde staatsondersteunde droogtehulpskemas en kon boere bekostig om nie vooruit te beplan nie. Nou is boere op hul eie aangewese en is daar ook die bykomende werklikheid van aardverwarming wat sal maak dat diè wat nie behoorlik beplan nie, moontlik nie die volgende droogte finansiëel sal oorleef nie.

Du Pisani se boek is ook in Engels onder die titel Smart Drought Management for Livestock Farmers beskikbaar.

Hy sê die doel van die boek is om veeboere te motiveer om anders te begin dink en beplan sodat droogtes met die kleinste moontlike impak oorleef kan word.

Die boek wys vir veeboere hoe om pro-aktief te beplan en voor te berei, hoe om droogteperiodes beter te bestuur en hoe om skade aan die veld, vee en geld na die droogte te herstel.

Du Pisani het sy graad met hoofvakke weiding- en kleinveekunde aan die Universiteit Vrystaat verwerf.

In 1992 het hy hoof van weidingsnavorsing in die Karoostreek geword waar hy ’n Droogte- Adviesburo vir die streek ontwerp het waarvoor hy die hoofdirekteurstoekenning ontvang het.

As privaat landboukundige het hy by ’n rekenmeesterspraktyk betrokke geraak waar boere ekonomiese- en landboukundige advies kon kry.

Hy was as die Oos-Kaap se landboukundige van die jaar aangewys en werk tans by die Nasionale Wolkwekersvereniging.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article