BEYERS Naudé plaaslike munisipaliteit (BNLM) se burgemeester, Deon de Vos, het gister ’n ope vergadering met belanghebbendes van die Graaff-Reinetgebied gehou om beter kommunikasiekanale daar te stel en die gemeenskap in te lig oor die huidige toedrag van sake in die munisipaliteit.

“Besighede, organisasies en inwoners moet ingelig wees,” het De Vos aan die vergadering gesê. “As ons problematiese kwessies eerlik kommunikeer, weet ek dat daar ’n skatkamer van praktiese kennis en welwillendheid vanuit die gemeenskap beskikbaar is. Almal wil hê die dorp moet floreer, en dat BNLM effektief funksioneer.”

Vuyiso Jantjies van die Black Business Forum het sy hoop uitgespreek dat die vergadering nie net ’n vrugtelose byeenkoms sal wees nie, maar dat BNLM ook van hulle kant af beskikbaar sal wees wanneer belanghebbendes op hulle beurt met die munisipaliteit wil kommunikeer.

Derek Light, inwoner en prokureur, is van mening dat plaaslike regering die sukses van ’n land bepaal. “Mislukte dienslewering sal nie die vrede in ’n gemeenskap bewaar nie. Dis duidelik dat BNLM in ’n krisis verkeer. Daar is nie tyd vir politieke speletjies nie. Ons moet oplossings soek en doen wat reg is vir dié munisipaliteit, sonder politieke motiewe.”

Belanghebbendes het hul frustrasie oor munisipale stilswye uitgespreek, waarop De Vos geantwoord het dat gebrekkige respons ’n voortdurende probleem in die munisipaliteit is, maar dat hy hom daarvoor beywer om amptenare verantwoordelik te hou.

Die grootste uitdaging is dat die munisipaliteit R15 miljoen inkomste maandeliks ontvang, terwyl salarisse alleen R12 miljoen beloop. Die lopende Eskom-rekening is nagenoeg R7 miljoen per maand.

“Ons het veral vanweë die samesmelting met die kleiner munisipaliteite meer uitgawes, maar nie meer inkomste nie, en sit derhalwe met ’n ernstige kontantvloeiprobleme.”

VERVOLG OP BL. 2

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article